Ross lei weer die Blou Bulle
Jono Ross, die man wat verlede jaar geskiedenis gemaak het deur die eerste Engelssprekende kaptein van die Blou Bulle in die Curriebekerreeks te word, sal Saterdag op Loftus Versfeld teen die Sharks weer die leisels vat. Ross is as kaptein aangewys nadat Deon Stegmann vir een week geskors is, omdat hy die OP Kings speler, …
Jono Ross, die man wat verlede jaar geskiedenis gemaak het deur die eerste Engelssprekende kaptein van die Blou Bulle in die Curriebekerreeks te word, sal Saterdag op Loftus Versfeld teen die Sharks weer die leisels vat.
Ross is as kaptein aangewys nadat Deon Stegmann vir een week geskors is, omdat hy die OP Kings speler, Devon Oosthuizen, met die elmboog in die gesig geslaan het in verlede week se wedstryd tussen die twee spanne in Port Elizabeth.
Frans Ludeke het altesaam vier veranderings aan die beginspan van die Blou Bulle aangebring vir die wedstryd teen die Sharks.
Op regtervleuel keer die blitsige sewes Springbok, Sampie Mastriet, terug in die plek van Akona Ndungane. Die twee skrumskakels, Rudy Paige en Piet van Zyl, ruil ook weer om met Paige wat hierdie keer in die beginspan is. Die gewese junior Springbok kaptein, Wiaan Liebenberg, is in Stegmann se plek gekies, terwyl Callie Visagie van sy besering herstel het en weer in die beginspan op haker sal sak in die plek van Bongi Mbonambi, wat na die reserwebank uitskuif.
Op die reserwebank maak Morné Mellet ’n welkome terugkeer, terwyl Tian Schoeman weer die reserwe losskakel sal wees. Die belowende jong veelsydige agterspeler, Jesse Kriel, is ook op die bank nadat hy van sy besering herstel het.
Ludeke het by die bekendmaking van die span gesê hulle besef dat hulle nie kan bekostig om weer ’n wedstryd te verloor nie. Die Bulle is tans sesde op die puntelys, hoewel hulle dieselfde hoeveelheid ligapunte as die Cheetahs (vyfde) het. Hulle lot is egter nog in hul eie hande en deur aan te hou wen kan hulle hulself binne drie weke na ten minste die derde plek bevorder. Die drie spanne wat tans direk bo hulle op die puntelys lê (Cheetahs vyfde, Sharks vierde en Pumas derde) is hul volgende drie agtereenvolgende teenstanders en al drie is tans net vyf of minder ligapunte voor die Bulle.
* Die Blou Bulle se span vir Saterdag se Curriebeker wedstryd teen die Sharks is:
Ulrich Beyers, Sampie Mastriet, William Small-Smith, Burger Odendaal, Bjorn Basson, Jacques Louis Potgieter, Rudy Paige, Jono Ross (kaptein), Jacques du Plessis, Wiaan Liebenberg, Grant Hattingh, Paul Willemse, Werner Kruger, Callie Visagie, Dean Greyling. Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Morné Mellett, Nicolaas Janse van Rensburg, Jacques Engelbrecht, Piet van Zyl, Tian Schoeman, Jesse Kriel.
