Bulle se Curriebeker hoop verydel ná nederlaag teen Sharks
Net ’n wonderwerk of twee kan die Blou Bulle nog help om vanjaar te kwalifiseer vir die halfeindrondte van die Curriebekerreeks, nadat hulle Saterdagaand op hul tuisveld in Pretoria met 26-15 teen die Sharks verloor het. Na ’n paar baie belowende weke, waarin die Blou Bulle weekliks beter gespeel het en begin lyk het na …
Net ’n wonderwerk of twee kan die Blou Bulle nog help om vanjaar te kwalifiseer vir die halfeindrondte van die Curriebekerreeks, nadat hulle Saterdagaand op hul tuisveld in Pretoria met 26-15 teen die Sharks verloor het.
Na ’n paar baie belowende weke, waarin die Blou Bulle weekliks beter gespeel het en begin lyk het na ’n span wat besig is om as eenheid te ontwikkel, het al die ou kwale Saterdagaand skielik weer kop uitgesteek.
Die Bulle het, veral in die eerste helfte, byna al die aspekte van die spel oorheers, maar hulle kon eenvoudig nie deurkomkans vind deur die Sharks se hegte verdediging nie. Die Bulle het egter op koers gebly deur Jacques-Louis Potgieter se skopskoen, wat die Sharks in die eerste helfte laat betaal het vir die foute wat hulle onder al die druk gemaak het.
’n Minuut voor rustyd het die Sharks se Springbokvleuel, Lwazi Mvovu, egter ’n bal op sy eie kwartlyn onderskep tydens een van de Bulle se talle aanvalle. Hy het deurgenael vir die drie en waar die Bulle met ’n ses-punt voorsprong sou gaan water drink, was hulle skielik agter met 12-13.
In die tweede helfte het die Blou Bulle hul beste agterspeler, William Small-Smith, met ’n besering verloor. Daardeur het hulle baie leierskap en organiseringsvermoë verloor. Sommer vroeg het die Sharks dié feit uitgebuit en ’n dwarsskop van Lionel Cronjé kon S’bura Sithole in staat stel om die Sharks se tweede drie te druk.
Die Blou Bulle kon daarna nie herstel nie. Hulle moes skielik inhaal-rugby speel en toe kom al die ou kwale van vroeër in die seisoen ook sommer terug. Die tuisspan het balle aangeslaan, takties swak geskop of op ander maniere hul eie momentum telkens gestuit. Die Ligbloues het boonop hul kaptein en baljagter-flank, Deon Stegmann, kwaai gemis en die gevolg was dat hulle ’n deeglike pakslae gekry het by die afbreekpunte.
Die Sharks, daarenteen het hul wedstrydplan puik uitgevoer en kon ook die tempo van die wedstryd opjaag, om die Bulle verder te frustreer.
Ongelukkig is die Bulle se lot nou nie meer in hul eie hande nie. Hulle sal ten minste in die volgende twee weke in weg-wedstryde teen die Cheetahs en die Pumas volpunte moet verdien én boonop hoop dat die twee spanne in hul ander wedstryde elk nóg ’n stryd verloor, sodat die agterdeur vir die Bulle kan oopgaan om in te glip na die halfeindstryd.
Puntemakers:
BLOU BULLE: 15. Strafdoele: Jacques-Louis Potgieter (5).
SHARKS: 26. Drieë: Lwazi Mvovo, S’bura Sithole. Doelskoppe: Lionel Cronjé (2). Strafdoele: SP Marais (2), Lionel Cronjé (2)
Spanne:
Blue Bulls: 15 Jesse Kriel, 14 Sampie Mastriet, 13 William Small-Smith, 12 Burger Odendaal, 11 Bjorn Basson, 10 Jacques-Louis Potgieter, 9 Rudy Paige, 8 Jono Ross (kaptein), 7 Jacques du Plessis, 6 Wiaan Liebenberg, 5 Grant Hattingh, 4 Paul Willemse, 3 Werner Kruger, 2 Callie Visagie, 1 Dean Greyling. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Morné Mellet, 18 Nicolaas Janse van Rensburg, 19 Jacques Engelbrecht, 20 Piet van Zyl, 21 Tian Schoeman, 22 JJ Engelbrecht.
Sharks: 15. SP Marais, 14. S’bura Sithole, 13. Paul Jordaan, 12. Andre Esterhuizen, 11. Lwazi Mvovo, 10. Lionel Cronje, 9. Cameron Wright, 8. Tera Mtembu (kaptein), 7. Etienne Oosthuizen, 6. Jacques Botes, 5. Marco Wentzel, 4. JC Astle, 3. Lourens Adriaanse, 2. Kyle Cooper, 1. Dale Chadwick Bank: 16. Franco Marais, 17. Danie Mienie, 18. Johan Meyer, 19. Khaya Majola, 20. Hanco Venter, 21. Tim Swiel, 22. Tonderai Chavhanga
Skeidsregter: Quinton Immelman
Assistant skeidsregters: Lourens van der Merwe, Cobus Wessels
TV skeidsregter: Johan Greeff
