Kuier weer saam met sportsterre van weleer
Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer al die nostalgie-vrate die kans kry om saam met hul sporthelde van weleer te kuier. Op aanvraag van die publiek en veral oud-rugbyspelers, bied Willie Kahts en sy vrou Irma weer hul jaarlikse sportfunksie aan waar kopstukke oor die goeie ou dae gesels kan word en waar …
Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer al die nostalgie-vrate die kans kry om saam met hul sporthelde van weleer te kuier. Op aanvraag van die publiek en veral oud-rugbyspelers, bied Willie Kahts en sy vrou Irma weer hul jaarlikse sportfunksie aan waar kopstukke oor die goeie ou dae gesels kan word en waar supersterre van die verlede om ’n heerlike bord kos en ’n glasie saam met aanhangers kan kuier. Vanjaar se funksie sal die tema “Six greats for cancer” hê. Dié “ses groottes” verwys na die sportsoorte rugby, sokker, krieket, atletiek, swem en boks. Daar sal ’n paneelbespreking onder leiding van die bekende SuperSport kommentator, John van Rensburg, plaasvind. Elk van dié sportsoorte sal deur ’n legende wat daarin uitgeblink het by die paneelbespreking verteenwoordig word. Die gewese Springbok kaptein, Theuns Stofberg, sal namens rugby praat. Die voormalige Springbok krieketspeler, Clive Rice, sal dié sport verteenwoordig. Pierre Coetzer, voormalige Suid-Afrikaanse swaargewig kampioen, sal namens boks praat en Gert Potgieter, voormalige wêreldrekord houer in die 400m hekkies is die man wat oor atletiek sal praat. Die verteenwoordigers vir sokker en swem sal later bekendgemaak word. Die begunstigde vir hierdie funksie sal, anders as in die verlede, nie ’n persoon wees nie, maar die Kankervereniging van Suid-Afrika. Die program sal afgesluit word met ’n toespraak deur die gasspreker, Ian McInthosh, voormalige Springbok afrigter en tans ’n Springbok keurder. Hy het ook as afrigter vier keer die Curriebeker saam met die Sharks/Natal gewen. Die funksie word aangebied word by Casa Social da Maderia by Boschkop (Lynnwoordweg-Oos) in die Ooste van Pretoria. Navrae: Irma Kahts by 082-800-0876 of ike@yebo.co.za
