Tuks Jeugrugby bied massa “Ice Bucket” uitdaging aan ten bate van beseerde speler
Tukkies se jeugrugbyklub het die afgelope Saterdag tydens sy laaste ligawedstryde waarskynlik die grootste aanbieding van die “Ice Bucket”-uitdaging tot dusver in Pretoria gehou. Drie oud-Springbok rugbyspelers, verskeie bestuurslede van dié jeugklub en verskeie spelers van die klub het deelgeneem aan die uitdaging om geld in te samel vir een van hul klublede wat onlangs …
Tukkies se jeugrugbyklub het die afgelope Saterdag tydens sy laaste ligawedstryde waarskynlik die grootste aanbieding van die “Ice Bucket”-uitdaging tot dusver in Pretoria gehou. Drie oud-Springbok rugbyspelers, verskeie bestuurslede van dié jeugklub en verskeie spelers van die klub het deelgeneem aan die uitdaging om geld in te samel vir een van hul klublede wat onlangs ‘n ernstige besering opgedoen het. Dyllan Beneckhe, losvoorspeler van die Tuks Jeugklub se o.16 span, het tydens ‘n onlangse wedstryd teen Harlequins se jeugklub ‘n ernstige nekbesering opgedoen. Hy word tans in die Little Company of Mary Hospitaal in Groenkloof behandel. Daar is aanvanklik gevrees is dat hy dalk verlam sou wees, maar dit gaan nou beter en hy kry reeds gevoel in sy bene terug. Die Tuks Jeugklub-bestuur, onder leiding van Phillip Botha, het besluit om die laaste ligawedstryde van die seisoen op hul eie velde te gebruik om ‘n massa “Ice Bucket”-uitdaging aan te bied waartydens deelnemers ook bydraes kon maak om Beneckhe finansieël by te staan. Honderde kilogram ys is bestel en tot agt vrywilligers kon op een slag aan die uitdaging deelneem. Daar was ook genoeg vrywilligers wat uit die reuse yswater-houers agter die ry stoele van die “slagoffers” kon skep om die gooiwerk te doen. Tydens die eerste sessie het oud-Springbokke en voormalige Tukkie-spelers soos Wynand Claassen, Piet Kruger en Krynauw Otto saam met lede van die Tuks Jeugrugby-bestuur deurgeloop. Elkeen kon vooraf vir Beneckhe ‘n boodskap op video vaslê. Daarna het die koue stort met die yswater gevolg.
