Atlete hardloop meer as 1000km om mobiliteit aan kinders te gee
Vier spanne van die Irene atletiekklub het die afgelope Saterdag om middernag voor hul klubhuis weggespring in ‘n aflos-uithoumarathon van 1 250km na Laingsburg in die Karoo. Hoewel dié moordende avontuur vir gewone mense na malligheid mag klink, het die groep atlete daarna uitgesien en hulle doen dit vir ‘n goeie doel. Die marathon is …
Vier spanne van die Irene atletiekklub het die afgelope Saterdag om middernag voor hul klubhuis weggespring in ‘n aflos-uithoumarathon van 1 250km na Laingsburg in die Karoo. Hoewel dié moordende avontuur vir gewone mense na malligheid mag klink, het die groep atlete daarna uitgesien en hulle doen dit vir ‘n goeie doel. Die marathon is gedoop ‘Serious Fun Run’ en die Irene-atlete wil geld insamel vir kinders wat kunsbene moet kry. Hulle hoop om sowat R250 000 in te samel. Die spanne pak die aflosmarathon van 24-ure per dag ook aan ter viering van die klub se 20e verjaarsdag. Ander klubs sal op verskillende punte van die roete by hulle aansluit. Wanneer die deelnemers op Vrydag 3 Oktober Laingsburg bereik, is hulle net mooi betyds om die volgende dag aan die uitdagende 80km Newton Karoo Ultramarathon deel te neem. Die Irene-atletiekklub, een van die grootste klubs in Suid-Afrika en bekend vir hul uitstekend georganiseerde wedlope, is vanjaar twintig jaar oud. Die klub bied verskillende sportdissiplines aan en spog met van die land se top-veldloophardlopers, stappers, driekampatlete en ystermankompetisie-deelnemers. “Ons het van die begin af beplan om twintig jaar se prestasies te vier deur ver deur die land vir ‘n liefdadigheidsorganisasie te hardloop,” vertel Chris Koch, klub-voorsitter. Die welsynsorganisasie wat by hul poging gaan baat is Jumping Kids. Dit is ‘n nie-winsgewende organisasie wat aan kinders met beenamputasies die jongste tegnologiese oplossings vir kunsbene verskaf. Die organisasie bied ook rehabilitasie en berading aan die kinders om te verseker dat hulle die beste moontlike kans vir ontwikkeling het. “Jumping Kids is die perfekte liefdadigheidsorganisasie vir die Irene-atletiekklub se 20e verjaardag. Deur ons liefde vir hardloop kan ons dit vir kinders met beenamputasies moontlik maak om te hardloop, te speel en te spring,” sê Koch. Tydens die wedloop na Laingsburg gaan ‘n plaaslike radiostasie elke dag met die hardlopers gesels en hul luisteraars op hoogte hou van hoeveel geld ingesamel is. Navrae: Annette van Irene-atletiekklub by amu@gibconsult.co.za
