Internasionale erkenning vir plaaslike skut
As Lauren Parsons van Centurion eers deur die teleskoop van haar spesiale luggeweer loer, is daar bittermin teikens wat staande sal bly. Parsons het pas teruggekeer van die Veldteikenskiet wêreldkamioenskappe, waar sy as deel van die Proteaspan deelgeneem het en as die wêreld se tweedebeste vroueskut gekroon is. Algeheel was sy die negende beste skut …
As Lauren Parsons van Centurion eers deur die teleskoop van haar spesiale luggeweer loer, is daar bittermin teikens wat staande sal bly. Parsons het pas teruggekeer van die Veldteikenskiet wêreldkamioenskappe, waar sy as deel van die Proteaspan deelgeneem het en as die wêreld se tweedebeste vroueskut gekroon is. Algeheel was sy die negende beste skut ter wêreld. Hierdie prestasies van Parsons volg kort op haar plaaslike kragtoer, waar sy onlangs as Suid-Afrika se top-vroueskut aangewys is, terwyl sy ’n derde plek behaal het in die ope afdeling by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Sy is inderdaad reeds sedert verlede jaar die land se top vroueskut, aangesien sy in 2013 ook die Nasionale Kampioenskappe gewen het. Vanjaar het sy die SA Ope titel daarby gevoeg. Dié BSc-student in haar eerstejaar by Tukkies het as sewejarige laerskooldogter begin deelneem aan die sport en sedertdien het sy stelselmatig só verbeter, dat sy vandag as Suid-Afrika se beste vroueskut in Veldteikenskiet beskou kan word. Veldteikenskiet is ’n sport waar deelnemers in die buitelug met spesiale luggewere na verskillende teikens op verskillende hoogtes en afstande skiet, terwyl die skut staties is. Dié sport groei baie vinnig oor die wêreld heen en kompetisie by die wêreldkampioeskappe is baie straf. Tans bestaan die wêreld beheerliggaam vir dié sport al uit 33 lidlande. Teikens kan die vorm van diere aanneem, maar dit word vervaardig uit staalplate en dit word soms op die grond geplaas en soms weer in bome of op ander hoogtes op die baan. Parsons, ’n voormalige leerling aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion, het aan Rekord gesê sukses is vir haar ’n besondere dryfkrag en as ’n mens dit eers beleef het, hetsy in sport of op ’n ander vlak van die lewe, streef jy na nóg. Ons het dus nog lank nie die laaste van Lauren Parsons gehoor nie en dié aanvallige jong dame sal waarskynlik nie ophou voor sy amptelik die wêreld se beste skut is nie.
