Local sportSport

Paleisrevolusie dreig op Loftus

Dit is nie net op die veld waar die toekoms vir die Blou Bulle op ‘n mespunt balanseer nie. In die raadsale van Loftus Versfeld gaan dinge deesdae só rof dat ‘n volwaardige paleisrevolusie dreig om los te bars onder verskeie faksies in die bestuur van die unie. Die huidige woelinge in die unie is …

Dit is nie net op die veld waar die toekoms vir die Blou Bulle op ‘n mespunt balanseer nie. In die raadsale van Loftus Versfeld gaan dinge deesdae só rof dat ‘n volwaardige paleisrevolusie dreig om los te bars onder verskeie faksies in die bestuur van die unie. Die huidige woelinge in die unie is ‘n storm wat reeds sedert 2010 dreig maar die betrokke rolspelers het telkens ter wille van die unie en ter wille van rugby weer probeer om in vrede die spel te bedryf. Rekord volg die ongelukkigheid van sommige betrokke persone wat by die bestuur van rugby in Pretoria verbonde is, reeds sedert 2010. In November 2010 was daar ‘n openhartige gesprek tussen die koerant en die topbe­stuur van die unie. In daardie stadium is besluit om die bestuur ‘n kans te gee om homself te bewys aangesien die huidige president, Louis Nel, toe kort tevore oorgeneem het nadat sy voorganger, Boet Fick, tot die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse rugbyunie verkies is. Intussen het ontevredenheid by sommige klubs en verenigings net erger geword en beskuldigings dat die reëls en regulasies toegepas en gebuig word soos dit die topbestuur pas, is aan die orde van die dag. Twee sake – wat wel met mekaar verband hou – het egter weer die twisappel duidelik na vore laat kom. Hierdie keer lyk dit of die topbestuur nie weer sonder ‘n ordentlike geveg daarvan gaan afkom nie. Eerstens was daar die hantering van ‘n vakature vir ‘n visepresident uit die geledere van die Carltonbekerklubs, wat ernstige vrae laat ontstaan het oor die erns van sommige top leiers – om rugby te dien teenoor eie belang. Daaruit het die bedanking van die voorsitter van die unie se grondwetlike komitee gevolg, wat weer die etiese gedrag van senior ampsdraers in die kollig geplaas het. Een van die unie se mees ervare administrateurs, adv. Charles van Staden, het in die helfte van die seisoen as visepresident bedank. Van Staden het, volgens aanduiding, bedank omdat hy besluit het om stelselmatig sy loopbaan as rugby-administrateur te beëindig na baie jare van goeie diens aan rugby by verskeie klubs en in verskeie komitees van die Blou Bulle. Van Staden was egter ook sedert 2010 ‘n sterk kandidaat vir die presidentskap, maar hy was in onguns by die huidige president en sy ondersteunersgroep. Hy is telkens uitgehou uit een van die twee top posisies, naamlik adjunk-president of president. Volgens die huidige grondwet kon Van Staden se bedanking deur die Carltonbeker klubs self hanteer word, aangesien hy hulle verteenwoordig het. Daar het toe inderdaad ‘n voorstel van TUT se rugbyklub gekom wat die bekende sportpromotor en rugby-entrepreneur, Willem Strauss, as plaasvervanger vir Van Staden voorgestel het. Strauss is die afgelope twee jaar voorsitter van die Oostelikes/Eagles klub en sy bydrae tot klubrugby en ander verwante sake was reeds baie positief. Die Enristabeker-toernooi vir o.19 spelers in Julie vanjaar, waar skoolseuns aan klubrugby blootgestel is, was sy breinkind én hy het daadwerklik bygedra tot die totstandkoming van die toernooi. Volgens aanduidings is Strauss se benoeming as vise-president onmiddellik deur die president en sy ondersteunersgroep gesien as ‘n bedreiging, aangesien die huidige adjunk-president, genl. Hans Meiring van die Polisie rugbyklub, reeds aangedui het dat hy aan die einde van die jaar ook uit rugby-administrasie gaan tree en dus sy posisie vakant gaan laat. Volgens waarnemers het die president en sy ondersteuners onmiddellik met ‘n drukgroep begin en kort voor lank is Gert Wessels van die Polisie-klub as teenstander vir Strauss genomineer. Wessels is ‘n swaargewig in rugby-administrasie, aangesien hy ook ‘n direkteur van die Blou Bulle se maatskappy is. Hy was voorheen die besturende direkteur van die Assupol Lewensversekeringsmaatskappy. Hoewel hy steeds ’n direkteur van dié maatskappy is, is dit ook bekend dat hy vanjaar uit die maatskappy se voltydse diens tree en dat hy waarskynlik meer tyd aan sy groot liefde vir rugby-administrasie sal bestee. Wessels se rol in die uitbou van klubrugby is self enorm en hy is jare lank al ’n staatmaker om amateurrugby en klubrugby tot hul reg te laat kom. Sommige waarnemers het aan Rekord gesê dat dit eintlik jammer is dat Wessels en Strauss op hierdie vreemde wyse opponente moes word, aangesien hulle saam ’n formidabele span in die Blou Bulle se bestuur sal uitmaak.

Met die stemming binne die Carltonklubs se geledere was daar egter ’n staking van stemme toe Strauss en Wessels elk vier stemme gekry het. Daar moes dus op ’n latere stadium weer gestem word.

Hierna het Henry van Wyk, voorsitter van die Silver Valke rugbyklub, te midde van die woelinge op verrassende wyse ook bedank as vise president, aangesien hy ontevrede was met die wyse waarop sy klub behandel is. Hy het beweer dat beloftes wat aan hom gemaak is deur die topbestuur nie gehou is nie. Die probleem van die twee kandidate as Van Staden se opvolger is dus uiteindelik maklik opgelos, aangesien daar toe twee poste en twee kandidate was. Daar word beweer dat die president woedend was toe Van Wyk sy rug op hom draai, want dit is bekend dat hy tot met die stemming deel van Nel se ondersteunersgroep was, hoewel hul verhouding in die verlede baie wisselvallig was.

Intussen het dit bekend geword dat daar voor die stemmery tussen Strauss en Wessels ’n poging was om die amptenaar van die TUT rugbyklub wat Strauss voorgestel het te intimideer. Hy is volgens getuies glo deur ’n senior administrateur en lid van die president se ondersteunersgroep gedreig dat TUT een van hul senior borge sou verloor as hy nie sy voorstel terugtrek nie. Hierdie gebeure het baie administrateurs geskok en ’n bitter smaak in die mond gelaat van hulle wat jare lank by die Bulle se administrasie betrokke is. Daar is gesê dat die persone wat vir dié intimidasie verantwoordelik was die trotse rekord van die Bulle se administrasie tot ’n vernederende laagtepunt afgetrek het.

Hierdie gebeure het gelei tot verdere optrede deur adv. Charles van Staden, wat by die kennisname van dié vuilspel in die raadsaal ook as voorsitter van die Grondwetkomitee van die unie bedank het. Van Staden wou volgens aanduidings nog aanbly

Gert Wessels, bekende sakeman en direkteur van die Blou Bulle-maatskappy, is inderhaas deur die Louis Nel-ondersteueners as teenstander vir Willem Strauss vir die pos van visepresident by die Blou Bulle rugby-unie genomineer, maar na dramatiese verwikkelinge is hulle uiteindelik albei as visepresidente gekies.
Gert Wessels, bekende sakeman en direkteur van die Blou Bulle-maatskappy, is inderhaas deur die Louis Nel-ondersteueners as teenstander vir Willem Strauss vir die pos van visepresident by die Blou Bulle rugby-unie genomineer, maar na dramatiese verwikkelinge is hulle uiteindelik albei as visepresidente gekies.

dié komitee om ten minste deel te hê aan ’n werkbare en professionele grondwet, maar uit sy bedankingsbrief, wat deur ’n derde party aan Rekord beskikbaar gestel is, was dit duidelik dat hy alle vertroue in die huidige topbestuur van die Blou Bulle rugby-unie verloor het. Hy skryf onder andere: “Sedert my bedanking (as vise-president) het ek bewus geword van ongevraagde en flagrante inmenging in die nominasieproses om ’n plaasvervangende visepresident in my plek aan te wys… Hierdie inmenging en intimidasie in die huishoudelike sake van die senior klubs se belangegroep is daarna tydens die verkiesingsproses voortgesit… Die bogenoemde flagrante verontagsaming van die grondwetlike reg en prosesse van die belangegroep van die senior klubs deur lede van die Topbestuur van die Blou Bulle Rugby-unie is nie alleen totaal onaanvaarbaar nie, maar mag ook nie geduld word nie… In die lig van bogenoemde, is ek nie bereid om verder deel te neem aan prosesse wat deur lede van die Topbestuur van die Blou Bulle Rugby-unie gemanipuleer word nie.”

Intussen is die finalisering van die nuwe grondwet voortgesit onder leiding van Dave Bergman van die Centurion klub. Die konsep grondwet wat tans ter tafel is en wat skynbaar voor die einde van Oktober en voor die verkiesing van die nuwe topbestuur in November vanjaar goedgekeur moet word, is net so omstrede en verskeie groepe en klubs verwerp sommige ingrypende klousules waarvan. Meer daaroor volgende week.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button