Kan die Blou Bulle die geskiedenis herhaal?
Na ‘n sukkelseisoen waarin die Blou Bulle in ‘n stadium nie gelyk het na moontlike halfeindrondte kandidate nie, het Deon Stegmann en sy makkers Saterdagaand op Loftus Versfeld maklik met Griekwas afgereken met ‘n 46-12 wentelling. Die span het ook gekwalifiseer om in die halfeindrondte te speel. In sulke uitspeelrondes is enigiets moontlik en die …
Na ‘n sukkelseisoen waarin die Blou Bulle in ‘n stadium nie gelyk het na moontlike halfeindrondte kandidate nie, het Deon Stegmann en sy makkers Saterdagaand op Loftus Versfeld maklik met Griekwas afgereken met ‘n 46-12 wentelling. Die span het ook gekwalifiseer om in die halfeindrondte te speel. In sulke uitspeelrondes is enigiets moontlik en die Blou Bulle is dus net twee oorwinnings weg van die titel as Curriebeker-kampioen. Hoewel daar beslis baie vyande én heelwat ondersteuners is wat die span geen kans sal gee om die beker te wen nie, het die Bulle al in die verlede uit presies dieselfde posisie teruggeveg om as kampioen gekroon te word. Twaalf jaar gelede het die Bulle ook vierde op die puntelys geëindig, maar daarna het hulle verras deur die topspan van die seisoen – die Sharks – in die halfeindrondte te klop. In die daaropvolgende eindstryd, wat tot vandag onthou word as die dag waarop die 19-jarige Derrick Hougaard homself op die land se rugbyverhoog aangekondig het, het die Bulle toe met die Goue Leeus afgereken om kampioen te word. Ironies genoeg sal die Bulle Saterdag weer oor die dienste van ‘n sensasionele jong losskakel beskik. Handré Pollard, wat twee weke gelede die groot held van die Springbokke was toe hulle die All Blacks op Ellispark geklop het, sal vir die Bulle beskikbaar wees. Pollard het Saterdag in die laaste minute van die wedstryd teen die Griekwas op die veld verskyn en weer gewys watter puik speler hy is. In sy vyftien minute op die veld het hy die Griekwas se verdediging aan repe geskeur deur een keer self te druk en minute later ‘n perfekte skoppie in die spreekwoordelike kassie te plaas, waar Akona Ndungane dit opgeraap het om te gaan druk. Die Blou Bulle se spelpeil is steeds opwaarts en hul spel in die vaste fasette is veral op die oomblik besonder goed. As hulle dus eerskomende Saterdag daarin kan slaag om hierdeur die bal uit die WP se gevaarlike aanvallers se hande te hou en as Pollard sy span op die voorvoet kan hou, sal die WP reeds onder druk wees. As die Bulle boonop daarin kan slaag om beter te fokus en hul kanse op die veld beter te gebruik, is daar geen rede waarom hulle nie ten minste ‘n 50% kans kan hê om die Kapenaars te klop nie.
