Local sportSport

Nuwe grondwet vir Bulle veroorsaak ook onmin

Soos Rekord verlede week berig het, beleef die administrasie van Bloubul rugby op Loftus Versfeld tans ernstige woelinge en daar bestaan ten minste twee duidelik identifiseerbare kampe in hierdie verdeeldheid. Te midde van die onmin en twis, is die huidige bestuur boonop besig met die finale voorbereiding om ‘n nuwe grondwet goed te keur wat …

Soos Rekord verlede week berig het, beleef die administrasie van Bloubul rugby op Loftus Versfeld tans ernstige woelinge en daar bestaan ten minste twee duidelik identifiseerbare kampe in hierdie verdeeldheid. Te midde van die onmin en twis, is die huidige bestuur boonop besig met die finale voorbereiding om ‘n nuwe grondwet goed te keur wat ingrypende veranderinge aan die struktuur van die huidige bestuursliggaam sal beteken. Weens die agtergrond van die onmin wat reeds sedert 2010 in die bestuur van Bloubul rugby broei, is dit vir ‘n buitestander verstaanbaar dat baie van die veranderings wat in die grondwet voorgestel word, suspisie wek, veral by diegene wat nie langs dieselfde vuur sit as die huidige president en sy ondersteuners nie. Dié grondwet moet volgens aanduidings reeds hierdie maand (Oktober), vóór die verkiesing van die nuwe bestuur vir die volgende termyn, goedgekeur en geïmplementeer word. Daar word byvoorbeeld ernstige vrae gevra oor veranderings in die grondwet, soos die president en adjunk-presidente se termyn wat van twee na vier jaar verleng word en dat hulle almal outomaties weer genomineer word vir hul posisie. Die komitee wat die nuwe grondwet opgestel het, hou egter vol dat hulle net probeer om die opdrag uit te voer om die effektiwiteit van die huidige bestuur te verbeter deur ‘n té groot en lomp bestuursliggaam te omskep in ‘n meer vaartbelynde bestuur wat makliker en gouer besluite kan neem. Volgens die voorsitter van die grondwetkomitee, Dave Bergman, was dit geen maklike taak om mense wat tans sekere voordele geniet weens hul betrokkenheid by die uitvoerende komitee, te oorreed om daardie voordele en voorregte prys te gee ter wille van die doelwit van ‘n meer effektiewe en vaartbelynde bestuursliggaam nie. Die uitvoerende komitee van die unie bestaan tans uit sowat dertig lede en byna elke groep (klubs en verenigings) het sy eie visepresident. Volgens die nuwe grondwet sal hierdie komitee, wat alle finale besluite sal neem, verklein word tot 12 lede. Dit sluit die president, twee adjunk-presidente (een elk vir Tshwane en Limpopo) en vise-presidente in. Volgens die nuwe grondwet sal sommige verenigings, soos die afrigters-, skeidsregters-, en noodhulpverenigings nou een visepresident deel, waar elke vereni- ging in die vorige grondwet deur sy eie vise-president verteenwoordig is. Dieselfde geld vir die laer- en hoërskole en jeugklubs. In hierdie proses het die oudspelersver-eniging, wat volgens die ou grondwet hul eie verteenwoordiger in die vorm van ‘n visepresident op die uitvoerende komitee gehad het, uit die bus geval en sal hulle dus glad nie meer ‘n verteenwoordiger hê nie. Daar bestaan ook glo by sommige klubs en verenigings die idee dat oudspelers nie werklik ‘n effektiewe bydrae tot die bestuur of uitbou van die unie lewer nie. Daar is selfs ‘n argument in vergaderings genoem dat heeltemal te min oudspelers by klubs betrokke is en dat hulle eerder hul gewig by bestaande klubs en verenigings moet ingooi om sodoende ‘n kans te staan om op die uitvoerdende komitee verkies te word.

In ‘n dokument wat oudspelers versprei het, word daar gesê dat hulle nie ‘n pro- bleem het met die plan om die uitvoerende komitee te verklein nie, maar dat oudspelers as belangegroep die enigste is wat in die nuwe grondwet heeltemal geïgnoreer word, hoewel hulle in getalle een van die grooste is. Hulle glo dat hulle ‘n unieke belangegroep is wat oorlaai is met kennis en ervarig om wel ‘n positiewe rol te speel ten opsigte van sake soos die bewaring van die unie se erfenis, die beskerming van kleure en simbole en selfs borge, terwyl hulle boonop deel van die geskiedenis en trotste rekord van die unie is.

Die huidige president van die Blou Bulle rugby-unie, Louis Nel, is tans onder kwaai druk. Woelinge wat die afgelope vier jaar sedert hy president geword het in die raadsale van Loftus Versfeld bestaan, dreig nou om oor te kook en die administrasie van die spel te belemmer.
Die huidige president van die Blou Bulle rugby-unie, Louis Nel, is tans onder kwaai druk. Woelinge wat die afgelope vier jaar sedert hy president geword het in die raadsale van Loftus Versfeld bestaan, dreig nou om oor te kook en die administrasie van die spel te belemmer.

Die oudspelers-vereniging beskik ook oor ’n trustfonds waarmee hulle as belangegroep omsien na Bloubul helde van die verlede wat in nood verkeer.
Volgens Wynand Claassen, voorsitter van die oudspelers-vereniging, sal hulle nie toelaat dat die nuwe grondwet goedgekeur word sonder ’n geveg nie. Hy reken ook een ekstra lid op die uitvoerende komitee sal nie die doelwit van ’n meer vaartbelynde bestuur belemmer nie.
Wat ookal die uiteinde van hierdie geveg en die implementering van die nuwe grondwet van die Blou Bulle rugby-unie gaan wees, dit bly ’n feit dat sterk en geloofwaardige leierskap dringend nodig is in die raadsale van Loftus Versfeld. Die vraag word geregverdigd gevra of dit toevallig is dat die gebrek aan sukses op die veld die afgelope vier jaar saamgeval het met die woelinge in die raadsale. Dis nogal heel ironies dat mense soos Frans Ludeke en Barend van Graan as die “openbare gesigte” van die bestuur op Loftus deur ondersteuners geskel en gevloek word op sosiale media forums, terwyl hulle inderdaad eintlik albei net amptenare is. Dit terwyl daar binne die struktuur van die Blou Bulle iets soos ’n rugby-koördineringskomitee is wat besluite kan neem wat ’n invloed kan hê op die Bloubul spanne se vertoning op die veld.
Ondersteuners van die Blou Bulle kan maar net hoop dat die besluitnemers in die raadsale die lesse van die geskiedenis van afgelope vyf jaar se bedrywighede in Loftus se raadsale ter harte sal neem en dat rugby en die beswil van die spel en sy spelers alleen in die toekoms die prioriteit sal wees van hulle wat besluite moet neem. Dan sal die trofeekas ongetwyfeld binnekort weer kreun onder die silwerware.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button