Nollis se jong Bulle wen silwerware vir die Loftus vertoonkas
Hoewel Kapenaars die afgelope naweek genoeg rede gehad het om fees te vier, was daar tog een negatiewe noot in hul oorwinningslied, selfs nadat hul Curriebekerspan en o.19’s as nasionale kampioene gekroon is.Die negatiewe noot is deur Nollis Marais se Bloubul o.21-span veroorsaak, wat halfpad deur die Kapenaars se dag van feesviering daarin kon slaag om te …
Hoewel Kapenaars die afgelope naweek genoeg rede gehad het om fees te vier, was daar tog een negatiewe noot in hul oorwinningslied, selfs nadat hul Curriebekerspan en o.19’s as nasionale kampioene gekroon is.Die negatiewe noot is deur Nollis Marais se Bloubul o.21-span veroorsaak, wat halfpad deur die Kapenaars se dag van feesviering daarin kon slaag om te keer dat die streeptruie skoonskip maak in al drie groot eindstryde op Nuweland in Kaapstad.Marais se span het die WP se o.21’s met 20-10 in ABSA se nasionale liga geklop om as kampioene in dié ouderdomsgroep gekroon te word.Die dag het baie goed begin vir die WP, toe hul o.19-span in die doodsnikke van húl eindstryd teen die Bulle se jongstes die wendrie kon druk. Daarmee het hulle met 33-26 gewen en die jong Bulletjies onttroon as nasionale o.19-kampioene. Dit het die Kapenaars visioene laat sien van drie trofee’s langs mekaar in hul vertoonkas.Ruan Steenkamp en sy makkers het egter ander planne gehad. Hoewel hulle ’n wisselvallige seisoen beleef het, het dié o.21-span van die Blou Bulle hul beste vir laaste gebêre en die Kapenaars het eenvoudig geen teenvoeter vir dié Bul-span se kragspel gehad nie.Agter ’n puik pak voorspelers, wat regdeur die wedstryd in die vaste fasette en dryfspel oorheers het, het die Bulle se twee losskakels die spel dikteer. Josh Stander en later Kobus Marais het eenvoudig die skroewe stywer gedraai en die WP-manne op die agtervoet gehou.Die Blou Bulle se oorwinning bevestig ook dat hul afrigter, Nollis Marais, ’n man is wat wéét hoe om bekers te wen. In Marais se kort loopbaan as professionele afrigter, spog hy nou reeds met ’n Carltonbeker-medalje en twee Varsitybeker oorwinnings. Saterdag se oorwinning in die nasionale o.21- liga het ook aan Marais sy tweede wennersmedalje in dié reeks besorg.
