Blou Bulle se topbestuur uitgedaag
Bloubul-ondersteuners sal binne die volgende twee weke weet of hul unie vanaf 2015 onder nuwe bestuur sal staan. Rekord het vroeër berig dat daar groot ontevredenheid en onderlinge twis in die bestuur van die Blou Bulle is en dat verskeie administrateurs voel die tyd vir verandering het aangebreek. Intussen het die woelinge interessante resultate opgelewer, …
Bloubul-ondersteuners sal binne die volgende twee weke weet of hul unie vanaf 2015 onder nuwe bestuur sal staan. Rekord het vroeër berig dat daar groot ontevredenheid en onderlinge twis in die bestuur van die Blou Bulle is en dat verskeie administrateurs voel die tyd vir verandering het aangebreek. Intussen het die woelinge interessante resultate opgelewer, maar een van die positiewe aspekte is dat die besture van al sewe die Carltonklubs vir die eerste keer in baie jare soos een man saamstaan. Die Bulle se nuwe grondwet is enkele weke gelede reeds deur die uniekomitee finaal goedgekeur. Hoewel die Oudspelersvereniging steeds bitter ontevrede is dat hulle volgens die nuwe grondwet nie langer ‘n verteenwoordiger op die uitvoerende komitee sal hê nie, het die res van die administrateurs intussen hul aandag verskuif na die belangrike verkiesing van dié komitee, wat eersdaags plaasvind. Die proses van nominasies is reeds aan die gang en die visepresidente sal hierdie week verkies word, terwyl die belangrike verkiesing – dié van die president en adjunk presidente – volgens alle aanduidings op 19 November afgehandel sal word. Rekord het intussen met ‘n senior amptenaar van die Tshwane Universiteit van Tegnologie gesels en hy was baie opgewonde oor die feit dat die Carltonklubs vir die eerste keer in jare eensgesind is en met mekaar saamwerk. Volgens hom is dit reeds ‘n baie positiewe stap vorentoe vir klubrugby in Pretoria. Die resultaat van hierdie samewerking is dat ‘n verkiesing om die drie visepresidente uit die geledere van die Carltonklubs aan te wys, nie nodig sal wees nie. Daar is drie poste en die klubs het onder mekaar ooreengekom om slegs drie manne te nomineer. Hulle is Gert Wessels van Polisie, Willem Strauss van Oostelikes/Eagles en Sias van den Berg van Tukkies. Volgens Rekord se inligting is Wessels, ‘n sakeman en deurwinterde rugby-administrateur, reeds genomineer om Louis Nel vir die presidentskap teen te staan. Strauss is ook genomineer as adjunk-president in die plek van genl. Hans Meiring wat uittree en Pretoria verlaat. Dit is nog onbekend of daar ‘n kandidaat in opposisie tot Strauss genomineer sal word. Die interessante deel van die verkiesing is dat die stryd tussen Wessels en Nel deur beide die Tshwane- en Limpopo groepe beslis moet word. Limpopo is nog ‘n onbekende faktor, hoewel Nel in die verlede ondersteuning van hulle gekry het. Daar is blykbaar egter reeds ‘n groep in Limpopo wat ook verandering in die bestuur voorstaan. Die unie se twee adjunk-presidente word afsonderlik verkies. Tshwane se klubs en verenigings kies hul eie adjunk, so ook Limpopo se klubs en verenigings. Die Carltonklubs hoop tans dat die ander klubs en verenigings die waarde van Strauss as adjunk sal insien en hulle sal ondersteun. Strauss het reeds ‘n plan op die tafel om klubrugby volgende jaar op junior vlak (o.19 en o.21) deur ‘n unieke konsep ‘n reuse hupstoot te gee.
