Heinrich du Preez pak die langpad aan op gholfkar
Daar is steeds geen keer aan Pretoria se gholfavonturier, Heinrich du Preez, nie. Hy het pas sy 36ste gholfverwante wêreldrekord opgestel.
Pretoria se bekende gholfavonturier, Heinrich du Preez, het die afgelope week sy 36e internasionale gholfverwante rekord opgestel.
Hierdie keer is Du Preez die taak opgelê om die afstand tussen Hartbeespoortdam en die Legends gholflandgoed buite Naboomspruit met ‘n gewone battery-aangedrewe gholfkarretjie in minder as 13 uur af te lê.
Om hierdie nuwe rekord vir die Guinness Book of Records te laat kwalifiseer, moes Du Preez meer as 250km in die gholfkar kafdraf. Hy het uiteindelik 331km ver gery teen ‘n gemiddelde spoed van 25km per uur.
Die rekordpoging het begin by die perseel van Golf and Bush Car SA, die maatskappy wat die karretjie geborg het, en die wenstreep was by die nuwe klubhuis van die Legends Golf&Safari Resort by Naboomspruit.
Die karretjie waarin Du Preez die rit voltooi het, is die Caddyman Birdie. Hy sê dit was net drie keer nodig om die battery te verander op die rit.
