Nóg ’n wêreldkampioen vir Pretoria
Pretoria se nuutste wêreldkampioen kom uit skopboks geledere. Johan Westervelt is pas in Tjegoslowakye as die wêreld se beste swaargewig skopbokser aangewys.
Van beginner-skopbokser tot wêreldkampioen binne net vyf jaar.
Dít is die ongelooflike verhaal van Johan Westervelt van Centurion, wat onlangs in Praag, Tjegoslowakye, as ‘n wêreldkampioen swaargewig-skopbokser gekroon is.
Westervelt het in 2009 besluit om smiddae na werk skopboks te doen om fiks te bly. Drie maande later verower hy ‘n brons- en silwer medalje op die Suid-Afrikaanse kampioenskap. In die jaar daarna word hy as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon en sedertdien kon hy dié titel nog elke jaar verdedig.
Verlede jaar word Westervelt in Madagaskar gekroon as die World Association of Kickboxing Organizations (WAKO) se Afrika swaargewig-kampioen. Vanjaar het Westerveld die kringloop voltooi en tydens die wêreldkampioenskap in Praag die goue medalje vir volkontak skopboks gewen en is daarna as wêreldkampioen gekroon.
Hoe op aarde het hy hierdie prestasie behaal na net vyf jaar sedert hy die sport begin beoefen het? “Harde oefening, goeie afrigting en ‘n sterk en lojale ondersteuningstruktuur,” was Westerveld se antwoord.
Die 29-jarige vennoot in ‘n IT-maatskappy in Centurion is vroeg in 2015 op pad na Australië, waar hy sy vermoë in die kryt by nog ‘n internasionale byeenkoms sal vertoon.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
