Local sportSport

Danie Venter boks vir Klitschko broers in Ukraïne

Ná ’n stil jaar waarin hy min in die kryt was sedert hy verlede jaar die WBF se junior swaargewig kampioen geword het, veg Danie Venter eerskomende naweek in ’n toernooi van die Klitschko broers in Oos-Europa vir nóg ’n internasionale titel.

Pretoria se bokstrots, Danie Venter, het op 13 Desember ‘n geleent­heid vir ‘n internasionale deurbraak en hy kan voor Kersfees sy tweede internasionale bokstitel ryker wees.

Venter boks op dié dag in die Sport Palace in Kiev in die Ukraïne teen die World Boxing Organisation (WBO) se inter-kontinentale junior swaargewigkampioen, Oleksandr Usyk. Dié Oos-Europeër se titel sal in die geveg op die spel wees.

Usyk het die titel ver­ower toe hy op 4 Oktober vanjaar die Suid-Afrikaanse junior swaargewigkam­pioen, Daniel Bruwer, in die sewende ronde van hul geveg in Lviv in die Ukraïne met ‘n tegniese uitklophou gestuit het.

Hoewel Usyk twee jaar gelede op 25-jarige ouderdom eers ‘n professionele bokser geword het, word hy reeds baie hoog in Europa aangeslaan. Hy is ‘n voormalige Europese amateurkampioen, terwyl hy in 2011 ook die amateur-wêreldkampioen as ‘n swaargewig was. ‘n Jaar later, in 2012, het hy ‘n goue medalje op die Olimpiese Spele gewen.

Na hy professioneel begin boks het, het Usyk ‘n kontrak met die bekende Klitschko-broers aangegaan en hy boks tans onder die vaandel van hul organisasie, K2 Promotions. Usyk is negende op die WBO se ranglys, terwyl Venter volgens dié organisasie nie die top tien haal nie, hoewel hy die huidige wêreldkampioen van die Wêreld Boksfederasie (WBF) is.

As Venter dus hierdie geveg kan wen, moet hy outomaties opskuif tot iewers in die top tien van die WBO, een van die ‘groot drie’ organisasies in die bokswêreld. K2 Promotions het hulle reeds kontraktueel verbind om vir Venter nog ‘n top geveg in Europa te beding.

As hy Usyk kan klop, is sy vooruitsig goed om teen een van die WBO se top junior swaargewigte te veg. Hy kan selfs binnekort ‘n geleentheid kry om teen die World Boxing Council (WBC) se kampioen, die formidabele Marco Huck van Duitsland, te boks.

Venter was ‘n week voor die geveg nog hard aan die oefen toe hy met Rekord gesels het. Hy het fisiek besonder goed gelyk en het ná ‘n strawwe sessie in die gimnasium gesê hy het laas só goed voorbereid gevoel voor sy geveg teen Zack Mwekassa. Venter het Mwekassa in September 2012 in die vyfde ronde van hul geveg in die ‘Last Man Standing’-toernooi in Kempton Park uitgeslaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button