Local sportSport

Die Bulls sal vanjaar weer ‘n faktor wees in SuperRugby

Die Bulls se vertoning in die SuperRugby toernooi sal altyd aan hul sukses van 2009 en 2010 gemeet word, maar vanjaar tel verskeie faktore in hul guns om weer bo uit te kom in dié strawwe reeks.

Die Bulls kan in 2015 net beter vaar as 2014 se negende plek in die SuperRugby reeks.

Dié stelling sal waarskynlik deur die grootste meerderheid van Bulls ondersteuners beaam word, terwyl daar wel hier en daar ’n doemprofeet sal wees wat glo dat dit nie met die Bulle beter sal gaan voor daar nie drastiese veranderinge aan die bestuurspan gemaak word nie.

Hoewel Frans Ludeke dit aan die einde van verlede jaar duidelik gestel het dat hy en sy mede bestuurslede reeds besluit het om hul speelstyl te verander en die bal meer te dra, sal daar natuurlik diegene wees wat steeds glo dis tyd vir verandering.

Ludeke moet egter die voordeel van die twyfel kry, nadat daar die afgelope paar seisoene baie woelinge en veranderingr op en van die veld af was op Loftus Versfeld. Luister ’n mens egter na die mening van die spelers wat op Loftus oor is na verskeie uittogte van die afgelope tyd, is daar steeds baie vertroue in Ludeke. Hy word wyd gerespekteer vir sy kennis en werkswyses en dit bly steeds ’n feit dat geen ander afrigter in die land tans by Ludeke kan kers vashou as hul rekords as afrigters op die tafel geplaas word nie.

In die sewe jaar onder sy leiding het die Bulls die reeks twee keer gewen en twee keer die uitspeelrondtes gehaal. In 2011 en 2014 was sy span tot met die laaste ronde nog aanspraakmakers op ’n plek in die uitspeelrondes.

Die feit dat die Bulls ook net drie noemenswaardige aanwinste sal hê wanneer vanjaar se reeks begin, is ’n verdere bewys dat daar tog iets reg gedoen word wat die ontwikkeling van jong spelers in die Blou Bulle se strukture betref.

Sedert die Bulls die SuperRugby trofee in 2010 die laaste keer gewen het, het toekomstige supersterre soos Arno Botha, Jacques du Plessis, Morné Mellet, Hencus van Wyk, Jan Serfontein, William Small-Smith, Jesse Kriel en Handré Pollard uit die Bulle se junior geledere na vore getree en hulself op senior vlak gevestig. Sommige van hulle is selfs reeds Springbokke.

Saam met aanwinste soos Adriaan Strauss, Trevor Nyakane en Lappies Labuschagne, asook verskeie gevestigde Springbokke en senior spelers, behoort hierdie jong manne in 2015 reeds ’n formidabele span in die komende SuperRugby-toernooi wees. Dit bly ’n feit dat faktore soos die wisselkoers (wat top-spelers oorsee dryf weens onweerstaanbare aanbiedinge), asook beserings aan verskeie sleutelspelers, verlede seisoen ’n invloed gehad het op die Bulls se vertoning.

Die meeste beseerde sterre is egter terug, terwyl daar ook beter diepte sal wees weens aanwinste en junior spelers wat intussen ontwikkel het en sal begin deurbreek op senior vlak. Na verskeie verwikkelings waai daar ’n vars briesie op Loftus Versfeld en soos sake nou staan, kan ’n Bulls 23-tal op 14 Februarie teen die Stormers aantree met tot 20 Springbokke in hul geledere.

Die Bulls se loting is vanjaar ook baie gustig, wat hul kanse selfs verder verbeter om in 2015 weer die top Suid-Afrikaanse span in die SuperRugby-toernooi te wees.

Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button