Minder toetse, maar steeds strawwe program vir Bokke in wêreldbekerjaar
Die jaar 2015 is wêreldbekerjaar vir rugbyliefhebbers en die Springbokke se internasionale program sal vanjaar effens anders lyk as gewoonlik.
Die wêreldbekerstryd wag op die Bokke in 2015. Rugby-liefhebbers en veral Springbok-ondersteuners sal 2014 onthou as ‘n voorloper ‘wêreldbekerjaar’.
Die Springbokke is steeds amptelik die wêreld se tweede beste span en dit behoort so te bly tot by die afskop van die 2015- wêreldbekertoernooi, wat vanjaar tussen 18 September en 31 Oktober in Engeland plaasvind.
Die feit dat die wêreldbeker effens vroeër begin as vorige toernooie, beteken ook dat daar nie vanjaar in Junie ‘n breek van provinsiale rugby gaan wees vir die gebruiklike internasionale “vensterperiode” nie. Geen toerspanne uit Europa sal Suid-Afrika dus vanjaar in Junie besoek nie.
Die Castle Rugby-kampioenskap (viernasie-reeks, soos dit in die volksmond bekendstaan) sal vanjaar ook net oor ‘n enkelronde beslis word, wat beteken dat Suid-Afrika net een keer teen elk van die ander drie spanne, Argentinië, Australië en Nieu-Seeland sal speel. Dié toernooi sal vanjaar tussen 17 Julie en 8 Augustus plaasvind.
Die langverwagte wêreldbekertoernooi breek op 19 September aan wanneer die Bokke in hul eerste wedstryd teen Japan in Brighton sal uitdraf. Suid-Afrika is geloot in groep B en gemeet aan die ander spanne wat ook in dié groep geloot is, behoort die Springbokke redelik maklik die kwarteindrondte te haal. Met die Springbokke se status as tweede beste span in die wêreld, behoort hulle met spanne soos Japan, Samoa, Skotland en die VSA af te reken.
Daarna raak die toernooi baie vinnig moeiliker, want in die kwarteindrondte speel Suid-Afrika teen die tweede beste span in groep A, wat as die “groep van die dood” gebrandmerk word. Met topspanne soos Australië, Engeland en Wallis almal in groep A geloot, sal die Bokke harde bene kou in die kwarteindrondte.
Om sake te vererger blyk dit dat die Springbokke en All Blacks (as albei spanne deurgaans wen in die eerste fase) mekaar dan in die halfeindstryd van 24 Oktober op Twickenham sal pak.
Hierdie scenario is nie positief nie, want dit sal beteken dat die wêreld se twee beste spanne waarskynlik nie in die eindstryd op 31 Oktober teen mekaar sal speel nie.
