Local sportSport

Bulle kry ernstige waarskuwing by ondersteuners in 2014

Amptelike syfers wys dat die Blou Bulle Rugby-unie verlede seisoen verliese gely het weens swak bywoning van toeskouers by SuperRugby én Curriebekerrugby wedstryde op Loftus Versfeld.

Die Bulls en Blou Bulle se gesukkel in verlede jaar se SuperRugby- en Curriebeker reekse het die Blou Bulle uiteindelik geknou waar dit die seerste maak – op hul bankbalans.

Volgens die Blou Bulle Rugby-unie se amptelike jaarverslag was daar ’n afname van 58128 in toeskouergetalle op Loftus Versfeld as 2013 en 2014 met mekaar vergelyk word.

Die Bulle het in 2013 tweede op die SuperRugby puntelys geëindig en 12 oorwinnings uit hul 16 wedstryde behaal. Hulle was onoorwonne op Loftus Versfeld, wat ’n groot faktor is in ondersteuners se oorweging om die stadion te besoek tydens wedstryde.

Ná die SuperRugby reeks van 2013 het die Blou Bulle en die Bulls in drie belangrikste reekse na mekaar gesukkel. In die Curriebekereeks van 2013 kon hulle nie die uitspeelfase (halfeindrondte) haal nie, terwyl hulle dit in 2014 opgevolg het met ’n negende plek in die SuperRugby reeks – die swakste vertoning sedert 2008.

Hoewel die Blou Bulle verlede jaar net-net die halfeindrondte van die Curriebekerreeks kon haal deur vierde te eindig, het die WP hulle in dié fase uitgeskakel. Net 47135 (gemiddeld 9427 per wedstryd) toeskouers het die Blou Bulle se vyf tuiswedstryde in verlede jaar se Curriebekerreeks bygewoon.

Die swak bywoning van wedstryde deur ondersteuners van die Bulls en Blou Bulle in 2014 het dus ’n aanloop sedert die Curriebekerreeks van 2013. Ondersteuners van die Bulls en die Blou Bulle is egter bekend daarvoor dat hulle met hul voete stem en beslis nie daarvan hou om ’n verloorspan te ondersteun nie.

Loftus Versfeld se toeskouergetalle van 2014 is die swakste sedert 2001, toe die Blou Bulle en die Bulls midde in ’n laagtepunt-era in hul geskiedenis was. Tussen 1999 en 2002 het die Bulls aan die onderkant van die puntelys in die SuperRugby reeks geboer, terwyl hulle ook in daardie era drie jaar lank erg gesukkel het in die Curriebekerreeks.

Hoewel die hekgelde van gewone toeskouers nie die Blou Bulle se belangrikste inkomste is nie, kan hul geldsake tog ’n gevoelige knou kry as die skares opdroog by wedstryde. As die ondersteuners boonop wegbly en ongelukkig is oor die span se vertoning, kan dit ook voornemende en huidige borge versigtig maak oor hul verhouding met die Bulle.

Die verleentheid waarin die Blou Bulle boonop beland het in ’n sukkeljaar soos 2014 is dat die getalle van sokkertoeskouers, wat net sekere tuiswedstryde van Mamelodi Sundowns en Kaizer Chiefs op Loftus Versfeld bywoon, meer is as dié wat tien tot twaalf rugbywedstryde van die Bulls en die Blou Bulle bywoon.

Die geskiedenis het dus bewys dat toeskouergetalle by rugbywedstryde op Loftus Versfeld direk verband hou met die Bulls en die Blou Bulle se vertonings. Die enigste manier waarop die tendens van 2014 dus omgekeer kan word, is dat die Bulls vanjaar weer aanskoulike- en wenrugby moet speel. Nóg ’n sukkelseisoen soos 2014 kan katastrofiese gevolge vir die Bulle se bankbalans inhou, wat weer kan beteken dat afrigters en bestuurspanne se toekoms ook in gedrang kan kom.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button