Local sportSport

Bulls speel met B-span teen Cheetahs in Pietersburg

Die Bulls pak die Cheetahs Saterdag in Pietersburg met 'n B-span, maar die groot kanonne sal byna almal die volgende week in Londen teen Sarecens in aksie wees.

Getroue ondersteuners van die Bulls in Limpopo, wat eerskomene Saterdag beplan het om hul span in Pietersburg te gaan ondersteun tydens hul opwarmingswedstryd teen die Cheetahs, mag dalk teleurgesteld wees oor die samestelling van die span wat in aksie gaan wees.

Frans Ludeke en sy bestuurspan het net enkele eerstekeuse spelers ingesluit in die span wat Limpopo toe reis. Die meeste van die Bulls se sterre is egter wel ingesluit in die span wat ’n week later in Londen teen Saracens sal speel in die Bulls se laaste opwarmingswedstryd voor die seisoen in alle erns op 14 Februarie begin.

Twee van die Bulls se aanwinste uit Bloemfontein, Lappies Labuschagne en Trevor Nyakane sal wel in Pietersburg in aksie wees.

Een van die interessante proefnemings met Saterdag se span is die keuse van die senterpaar. JJ Engelbrecht en William Small-Smith is albei vanjaar aanspraakmakers op die nommer-13 trui, maar vir dié wedstryd is hulle as kombinasie gekies met Small-Smith wat na binnesenter skuif. Hy is natuurlik ’n besonder talentvolle speler en as hy ’n sukses is op binnesenter, kan sy waarde in die spanopset ooglopend verder styg.

Nog ’n interessante keuse is dié van die jong reus, Jacques du Plessis, op nommer-4 slot. Du Plessis was verlede seisoen een van die Bulls en die Blou Bulle se uitblinkers op flank. Hy het as junior egter heelwat op slot uitgedraf en met manne soos Arno Botha en Labuschagne wat albei vanjaar beskikbaar is, sal dit sin maak dat Du Plessis meer slot gaan speel.

Met Flip van der Merwe se nuuste besering, wat hom waarskynlik nog tot einde Maart van die veld gaan hou, maak dit sin dat Du Plessis eerder as slot gebruik word.  Dié 21-jarige Junior Bok is 2,01meter lank en weeg 120 kg, maar hy is ook baie beweeglik, wat beteken dat hy uiteindleik die gaping in die Bulls se opset kan vul wat met die vertrek van Danie Rossouw in 2012 gelaat is. Rossouw kon in enige trui van nommer-6 tot nommer-8 op die veld verskyn en elke keer ’n impak maak. Du Plessis het die vermoë om dieselfde rol te speel.

Die ander interessante naam wat verskyn in beide groepe – Saterdag se Limpopo-wedstryd, sowel as die toergroep na Londen – is dié van die jong Hanro Liebenberg, broer van die gewese Junior Bok kaptein, Wiaan. Liebenberg word eers in Oktober vanjaar 20 jaar oud en hy was verlede seisoen nog die kaptein van die Blou Bulle se o.19 span. Hy is egter heelwat groter as sy broer en word duidelik hoër aangeslaan deur die huidige bestuur.

Met die Cheetahs wat ’n span aangekondig het wat die meerderheid van hul eerstekeuese spelers insluit, sal dit interessant wees om Saterdag die vertoning van ’n paar van die jonger en minder ervare spelers dop te hou wat vir die Bulls in aksie gaan wees. Veertien plaasvervangers reis saam na Limpopo, wat beteken heelwat proefnemings sal gesien word.

Die span vir die wedstryd teen die Cheetahs is: Jesse Kriel, Travis Ismaiel, JJ Engelbrecht, William Small-Smith, Jamba Ulengo, Jacques-Louis Potgieter, Rudy Paige, Hanro Liebenberg, Lappies Labuschagne, Deon Stegmann (kaptein), Marvin Orie, Jacques du Plessis, Werner Kruger, Bandise Maku en Trevor Nyakane.

Plaasvervangers: Callie Visagie, Mornè Mellett, Dayan vd Westhuizen, Nicolaas Janse van Rensburg, Grant Hattingh, Roelof Smit, Nardus van der Walt, Arno Botha, Piet van Zyl, Tian Schoeman, Dan Kriel, Ulrich Beyers, Duncan Matthews, Jurgen Visser.

* Vyftien Springbokke is deel van die span wat gekies is om volgende week Londen toe toe reis vir die laaste oefenwedstryd teen die top Engelse klub, Saracens.

Dit maak ook sin om die Bulls se top span teen dié Engelse te laat uitdraf in die laaste opwarmingswedstryd. Die intensiteit van dié wedstryd behoort baie hoër te wees as dit wat Saterdag in Pietersburg te wagte kan wees.

Daar mag dalk kritiek wees dat sommige spelers slegs een opwarmingswedstryd voor die seisoen sal speel, maar die Bulls het al in die verlede gewys dat dié benadering nie noodwendig negatief is vir die span se veldtog, wat vyf maande se harde rugby insluit nie.

Die toergroep waaruit die span vir die wedstryd teen Saracens op Allianz Park in London gekies sal word is:  Jurgen Visser, Jesse Kriel, Akona Ndungane, Bjorn Basson, Travis Ismaiel, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, William Small-Smith, Handrè Pollard, Jacques-Louis Potgieter, Francois Hougaard, Piet Van Zyl, Rudy Paige, Pierre Spies, Hanro Liebenberg, Lappies Labushagne, Deon Stegmann, Roelof Smit,  RG Snyman, Marvin Orie, Victor Matfield, Grant Hattingh, Jacques Du Plessis,  Trevor Nyakane, Werner Kruger, Dean Greyling, Mornè Mellett, Marcel Van Der Merwe,  Bandise Maku, Callie Visagie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button