Naka Bulle vereer sterre ná bittersoet seisoen
Daar is ’n nuwe positiewe gees te bespeur by die Naka Bulle rugbyklub en hulle lyk oorgehaal om binnekort hul enorme potensiaal te verwesenlik.
Die Naka Bulle rugbyklub is op pad na sukses. Dít was die duidelike boodskap wat elke gas verlede naweek op dié klub se jaareind funksie gekry het.
Hoewel die klub se sukses in 2015 op papier nie te wafers lyk nie, sal vanjaar waarskynlik in die toekoms uitstaan as die jaar waarin die sluimerende reus van die Moot uiteindelik wakker geword het.
Teen hierdie tyd is dit ou nuus dat Naka Bulle se Carltonbekerspan op ’n tegniese punt uit vanjaar se halfeindrondtes gehou is. Dié optrede van die Blou Bulle rugby-unie het uitgeloop op ’n hof-aksie van die klub.
Daar is intussen besluit om te konsentreer op die toekoms en dít lyk besonder rooskleurig vir Naka Bulle. Behalwe vir die opwindende nuwe internasionale rugby-instituut, wat ook die klub se eie akademie sal bestuur, het dit ook bekend geword dat nóg ’n paar top spelers besluit het om volgende jaar hul rugby in die Moot te kom speel.
Die goeie gees by Naka Bulle was duidelik by hul jaareindfunksie, wat op ’n wynlandgoed in Pretoria aangebied is. Verskeie uitblinkers van die klub is voor ’n vol saal gaste vereer.
Die klub se twee top toekennings is opgeraap deur Antonhy Beswick (Speler van die jaar) en Jean Grobler (Sportman van die jaar).

Foto: Marinus van der Wath
Naka Bulle se suksesvolle o.21 span, wat Tukkies vanjaar drie keer geklop het om as die Blou Bulle se o.21 kampioene gekroon te word, is aangewys as die span van die jaar.
Marinus van der Wath, Naka Bulle se nuwe Direkteur van Afrigting en ook Hoof van die klub se nuwe Internasionale rugby-instituut, het by die funksie gesê dat die klub volgende jaar baie hoë doelwitte vir hulself gaan stel. Hy het prontuit gestel dat die eerstespan beslis daarna gaan streef om beide die Assupol reeks en die Carltonbeker toernooi te wen, terwyl hulle ook wil kwalifiseer vir die Gemeenskapsbekerreeks.
Naka Bulle se voorseisoen program begin reeds in November. Navrae: Buks Burger by 082-925-7206.
