Rekords spat by puik atletiek op Pilditch
Die 17de Abrie van Staden Prestige Atletiekbyeenkoms is Woensdagmiddag en –aand by die Pilditch Stadion in Pretoria-Wes aangebied.
Die skole-atletiekseisoen is in volle swang en die jaarlikse Abrie van Staden byeenkoms vir top atletiekskole, wat deur die Hoërskool Garsfontein aangebied word, was weer ’n atletiekfees uit die boonste rakke.
Die atlete het puik presteer op die baan en op die paviljoen het toeskouers hulself gate uit geniet. Niemand het selfs gekla toe ’n reënbui teen laatmiddag oor Pretoria-Wes uitgesak het nie, want almal weet hoe nodig dié seëning is. Daar was gelukkig geen weerlig nie en die atletiek kon voortgaan, aangesien Pilditch se baan weervas is. Toe die reën later die aand terugkeer is die aflos-items egter gekanseleer.
Sewe van die beste atletiekskole uit Gauteng was deel van hierdie byeenkoms. Twee van die skole (Garsfontein en Oos-Moot) is van Pretoria, terwyl Prestige Kollege uit Hammanskraal afkomstig is. Die ander vier skole is afkomstig uit die Oosrand (Hoërskool Jeugland en Hoërskool Dr. EG Jansen), die Wesrand (Hoërskool Monument) en Johannesburg (Helpmekaar Kollege).
Soos die name van die skole én die naam van die byeenkoms aandui, kon dit nie anders dat daar puik prestasies op die baan én in die veld moes wees nie. Verskeie byeenkomsrekords het in die slag gebly en verskeie atlete het besonder hoë punte op die bekende ABSA-tabel verwerf. In hierdie geval het die seuns in kwantiteit beter gedoen as die dogters, aangesien 13 seuns dit kon regkry. In die diskusgooi-item vir seuns onder 15 het iets besonders gebeur, aangesien al drie die seuns in die eerste drie plekke meer as 1000 punte op die ABSA tabel verdien het.
Slegs twee dogters kon daarin slaag om dié magiese 1000-punte teiken te behaal. Die beste prestasie van die dag het egter behoort aan ’n dogter. Danae Janse van Rensburg van Oos-Moot is nog onder 15, maar sy het die diskus 44,40 meter ver laat grondvat, wat aan haar ’n reuse 1200 punte op die ABSA tabel besorg het. Sy het boonop 1112 punte verdien met haar prestasie in die gewigstoot vir dogters onder 15, toe sy die ysterbal 14,29m ver gestoot het.
Die toeskouers was reeds vroegmiddag op die punte van hul stoele toe Chris Moleya van die Prestige Kollege ’n 22-jaar oue rekord in die hoogspring vir seuns o.19 laat spat het. Dié rekordhoogte van 2,15 was vir Moleya 1008 punte op die ABSA tabel werd.
Garsfontein se sneltrein, Thembo Monareng, het ook weer sy gebruiklike puik vertonings gelewer. Hy het die 100m (10,69 sekondes) en die 200m (21,60 sekondes) vir seuns onder 17 albei in rekordtye gewen.
Die jong reus van Garsfontein, Burger Lamprechts het ook puik presteer met ’n nuwe rekord in die gewigstoot vir seuns o.19. Sy wenafstand was 17,83m.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.






















