Local sportSchool sportSport

Klofies se Prestige Atletiekbyeenkoms lok skole vanoor Suid-Afrika

Die Hoërskool Waterkloof se Prestige Atletiekbyeenkoms, wat Vrydag by Pilditch in Pretoria aangebied is, het nie net top skole vanoor Suid-Afrika gelok nie, maar ook puik prestasies opgelewer.

Dis nie elke dag dat 12 van die land se beste atletiekskole by die Pilditch Stadion in Pretoria saamtrek om in ’n Prestige Atletiekbyeenkoms teen mekaar te kompeteer nie.

Dit is presies wat Vrydagaand in Pretoria-Wes gebeur het. Die byeenkoms, wat gesamentlik deur die Hoërskool Waterkloof en Tukkies aangebied is, het atlete van letterlik regoor Suid-Afrika en Namibië gelok. Daar was verteenwoordiging so ver as van die Wes-Kaap in die Suide tot Nelspruit in die Laeveld en alles tussenin. Uit die Kaap het skole soos DF Malan (Bellville, Kaapstad), Paarl Gimnasium en Paarl Girls High (Boland) en Outeniqua (Suid-Kaap) gekom. Dan was daar Potchefstroom Gimnasium (Noordwes), Transvalia (Vaaldriehoek), Hugenote (Springs, Oosrand), Kempton Park (Oosrand), Nelspruit (Laeveld) en die Windhoek Afrikaanse Privaatskool (Namibië). Uit Pretoria was daar die twee gasheer skole, Hoërskool Waterkloof en die Tukkies Sportskool.

Met skole soos hierdie by dieselfde byeenkoms is dit logies dat daar puik prestasies sou wees, ten spyte van die feit dat dit nog baie vroeg in die huidige atletiekseisoen is.

Uiteindelik is 13 nuwe rekords by die byeenkoms opgestel, terwyl een rekord geëwenaar is. Die seuns- en dogtersatlete was ewe bedrewe op die dag, want die 14 rekords word met sewe-elk tussen hulle verdeel.

As die prestasies met die bekende ABSA puntetabel vergelyk word, kan die kwaliteit van die dag se aksie bewys word. Agt atlete kon daarin slaag om meer as 1000 punte op dié tabel te verdien met hul prestasies. Die twee top presteerders van die dag was twee junior dogters, wat albei verstommende vertonings in die spiesgooi gelewer het. Gaylynn Wessels van Waterkloof (o.14) het die spies 40,44m ver gegooi, terwyl Jana van Schalkwyk van Paarl Gimnasium (o.15) dit byna vyf meter verder laat grondvat het. Haar afstand was 45,11m. Beide hierdie dogters het 1200 punte op die ABSA tabel verdien.

Op die baan was dit veral die prestasies van ’n junior seun wat beïndruk het. Bjorn van Wyk van Hoërskool Kempton Park is nog o.14, maar hy is beslis ’n seun wat dopgehou moet word. Hy het beide die 100m (11,42s) en die 200m (23,38s) in nuwe rekordtye gewen en in albei die items ook meer as 1000 punte op die ABSA tabel verdien.

Teen vroegaand het toeskouers ook as bonus die geleentheid gehad om sommige van die land se beste jong 400m en 800m atlete in aksie te sien in twee wedlope oor die ongewone afstand van 600m. Die vroue wedloop is gewen deur die bekende Afrika-kampioen in die 400 hekkies, Wenda Nel. Haar wentyd was 1 minuut en 30 sekondes.

Ranti Dikgale se wentgyd in die 600m vir mans was 1 minuut en 17 sekondes.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button