Local sportSchool sportSport

Gedenkbyeenkoms lewer puik atletiekprestasies

Ten spyte van die feit dat Vrydagaand se Zander Delport Gedenk-atletiekbyeenkoms op ’n grasbaan moes plaasvind, was daar steeds puik prestasies.

Die tweede Zander Delport Gedenk-atletiekbyeenkoms, is Vrydag weer gesamentlik deur Afrikaans Hoër Seuns– en Meisieskole aangebied.

Zander Delport was in 2013 ’n graad 9 seun by die Afrikaans Hoër Seunskool. Hy was ’n puik sportman, wat daardie jaar ook as nasionale kampioen in die 400m vir seuns onder 15 gekroon is. Tydens die Oktober-vakansie het hy skielik siek geword en dokters kon aanvanklik nie agterkom wat met hom fout is nie. Later is hy met bloeding op die brein gediagnoseer en hy is kort daarna oorlede.

Verlede jaar is daar besluit om ’n jaarlikse atletiekbyeenkoms ter ere van Delport aan te bied en vanjaar was reeds die tweede keer dat dit plaasgevind het. Die byeenkoms is by die Afrikaans Hoër Seunskool se atletiekbaan aangebied. Beide Afrikaans Hoër Seuns- en Meisieskole, asook Hoërskool Waterkloof,  Hoërskool Kempton Park en Grey Kollege van Bloemfontein het aan die byeenkoms deelgeneem.

Die byeenkoms word aangebied in samewerking met die Universiteit van Pretoria, maar weens verbeterings en opgradering wat tans aan die baan in Tukkies se atletiekstadion gedoen word, moes hierdie tweede Zander Delport Gedenkbyeenkoms by Affies aangebied word. Dié skool het natuurlik ’n atletiekbaan met ’n gras-oppervlak, terwyl Tukkies se atletiekbaan ’n kunsmatige oppervlak het. Om hierdie rede kon geen rekords op die baan Vrydag in gedrang kom nie.

Ten spyte van die baanoppervlak van gras was daar puik prestasies by die byeenkoms. Verskeie atlete het dit reggekry om op die baan meer as 900 punte op die bekende ABSA-tabel te verdien. Hier staan veral die prestasie van Julian Bogner van Waterkloof uit. Hy het 991 punte verdien in die 110m hekkies vir seuns onder 16 met sy tyd van 14,25 sekondes.

Kempton Park se Bjorn van Wyk (seuns o.14) se prestasies in die naellope staan ook uit. Hy het die 100m gewen in ’n tyd van 11,56 sekondes (934 punte) en in die 200m was hy baas met ’n tyd van 23,84 sekondes wat hom 965 punte op die ABSA tabel laat verdien het.

Vier dogters en drie seuns kon daarin slaag om in velditems meer as 1000 punte op die ABSA tabel te verdien. Die beste vertoning deur ’n dogter was dié van Jeane Minnaar van Afrikaans Hoër Meisies (AHM), wat die hoogspring vir dogters onder 15 met ’n hoogte van 1,71 meter gewen het. Dit het haar 1080 ABSA-punte in die sak gebring.

Dan het Christelle Grobler van Kempton Park in die diskus vir dogters onder 14 die werpskyf 36,91 ver geslinger en daarmee 1061 punte verdien. AHM se Kaylee de Swardt het in die gewigstoot vir meisies onder 16 ’n afstand van 14,18 meter behaal, wat 1060 punte werd was. Laastens het Gaylynn Wessels 1019 punte verdien met haar wenafstand van 35,88 meter in die spiesgooi vir dogters onder 14.

Die twee beste prestasies van die dag het egter aan seuns behoort. Zander Maree van Waterkloof is nog onder 14, maar hy het ’n afstand van 6,31 meter in die verspring behaal, wat ’n reuse 1200 punte op die ABSA tabel werd is.

Kort op Maree se hakke was die prestasie van Kempton Park se Juan Oosthuizen in diskus vir seuns onder 14. Hy het die werpskyf op 47,27 meter laat grondvat en daarmee 1142 punte verdien. Herman Aggenbach van Grey Kollege het 1010 punte verdien in die gewigstoot vir seuns onder 16 met sy poging van 16,87 meter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button