Goeie gees en kompeterende atletiek by C-bond byeenkoms
Agt skole het mekaar Dinsdag op die Pilditch stadion se atletiekbaan aangevat toe die C-Bond se interhoërbyeenkoms daar aangebied is.
Pretoria se eerste interhoër atletiekbyeenkoms van die seisoen, die C-bond byeenkoms, is Dinsdag op die Pilditch stadion deur die Hoërskool Uitsig van Centurion aangebied.
Sewe skole vanoor die hele Tshwane Metro, asook een skool uit Noordwes, was deel van die aksie op die baan en op die paviljoen.
Behalwe vir die gasheer skool was die ander deelnemers Hoërskool Brits, Hoërskool Erasmus, Hoërskool FH Odendaal, Hoërskool Gerrit Maritz, HTS John Vorster, Hoërskool Tuine en Hoërskool Wonderboom.
Die aksie het vroegdag in koel bewolkte weer begin, maar kort voor lank het die son deur die wolke begin breek en die atlete moes hierna nie net met hul teenstanders rekening hou nie, maar ook met snikhete weersomstandighede.
Hoewel die weer waarskynlik ’n invloed op die baanatlete gehad het, veral wat betref die middelafstande, kon dit nie die ondersteuners se gees op die paviljoene demp nie. Die skole was almal goed verteenwoordig op die paviljoen en die ondersteuners het hul atlete uit volle bors aangemoedig, terwyl hulle tussendeur met hul sang vir die prys om die beste gees gekompeteer het.
Die dag se aksie op die baan en in die veld het vir ’n hele paar puik prestasies gesorg. Vier van die skole het mekaar deur die dag ordentlik opgekeil en die stryd om die byeenkoms te wen was baie straf. Uiteindelik was dit Hoërskool Wonderboom wat met die louere weggestap het. Hul oorwinning was veral te wyte aan die prestasies van hul dogters, wat as algehele wenners onder die dogterspanne geëindig het. Wonderboom se seuns was derde, maar op algehele punte het hulle die byeenkoms gewen.
Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit was algeheel tweede, terwyl Hoërskool Brits die derde plek behaal het. Daarna het Tuine, Gerrit Maritz, FH Odendaal en Uitsig gevolg. HTS John Vorster het net in die afdeling vir seuns deelgeneem, waar hulle tweede ná Erasmus geëindig het.
Die dag se prestasies het egter vir Wonderboom nie geëindig by die atletiek-aksie nie. Dié skool het ook die beker gewen as deelnemer op die paviljoen met die beste gees.
Lianka Wurth van Erasmus is aangewys as Junior Victrix Ludorem, terwyl die prys as Junior Victor Ludorem aan Ryan van Nieuwenhuizen van HTS John Vorster gegaan het. Die Senior Victrix Ludorem was Zané van Deventer van Erasmus en JP van der Merwe van Brits is aangewys as Senior Victor Ludorem.


