Agt skole dreun mekaar op by B-bond atletiekbyeenkoms
Pretoria se B-bond interhoër atletiekbyeenkoms is Donderdag op die Pilditch stadion in die weste van die stad aangebied.
Agt hoërskole het Donderdag van so ver soos Midstream uit die suide van Pretoria en Hartbeespoort uit Noord-Wes opgeruk om deel te neem aan die plaaslike B-bond interhoër atletiekbyeenkoms.
Ten spyte van warm en bedompige weer tydens die oggendsessie het dié skole se atlete puik presteer en verskeie byeenkomsrekords het reeds vroeg in die slag gebly. Later het die temperatuur darem afgekoel toe ’n ligte reënbui teen middagete uitgesak het. Nog later die middag moes die program vir sowat ’n uur onderbreek word toe ’n hewige donderstorm oor Pretoria-Wes uitgebreek het. Die grootste deel van die laatmiddag-program is in bewolkte weer afgehandel.
Die byeenkoms is deur die Hoërskool Akasia in die Pilditch stadion in die weste van Pretoria aangebied. Behalwe vir die gasheerskool was die ander deelnemers die Hoërskool Centurion, Hoërskool Hartbeespoort, Midstraem College, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Overkruin, Hoërskool Pretoria-Noord en Sutherland High School.
Terwyl die verskillende skole se atlete mekaar op die baan opgedreun het, het daar op die paviljoen ook ’n verbete stryd geheers, waar leerlinge luidkeels deelgeneem het aan die kompetisie om die beker vir die skool met die beste gees te bepaal.
’n Volledige berig met ’n bespreking van die uitslae op die atletiekbaan volg later.
