Local sportSport

Bulls wys flitse van hul ware vermoë teen Rebels

Die Bulls se vertoning teen die Rebels het duidelik bewys dat hierdie jong span kán rugby speel, maar dat hulle nog baie skaafwerk aan hul fisieke én geestelike skerpheid nodig het voor hulle weer die skares na Loftus Versveld sal lok.

’n Kampioenspan word nie oornag gebou nie. Hierdie boodskap was die afgelope naweek weer duidelik in meer as een Suid-Afrikaanse SuperRugby span se vertoning.

Daar sal waarskynlik ’n klein bietjie minder kritiek wees van die kant van die hiper-kritiese Bulls ondersteuners ná Saterdag se maklike oorwinning van 45-25 teen die Rebels van Melbourne in Australië.

Op die oog af kan daar natuurlik weer baie kritiek gelewer word. Byvoorbeeld, hoe op aarde kon die Bulls, vanuit ’n posisie waar hulle op ’n stadium 42-3 voor was, vier onbeantwoorde drieë afstaan? Dít het gepaard gegaan met verdediging wat op SuperRugby vlak nie anders as pateties beskryf kan word nie.

Dit het weer bewys dat Bulls ondersteuenrs vanjaar geduld sal moet hê, want hierdie jong span is nog ver van kampioenstatus. Om vir 80 minute te kan fokus is tog juis een van die eienskappe van ’n kampioenspan.

Tog, op die keper beskou was daar oomblikke in daardie eerste helfte wat flitste van ’n toekomstige kampioenspan gewys het. Die drieë van Travis Ismael en Jannes Kirsten is byvoorbeeld albei voorafgegaan deur skitterspel, waar voor- en agterspelers puik gekombineer het.

Die insinking in die tweede helfte, die swak verdediging en die middelmatige vertoning by die afbreekpunte teen ’n erg middelmatige teenstander het egter weer gewys hoe ver hierdie span nog sal moet gaan om as soliede eenheid ’n ware aanspraakmaker op glorie in die reeks te kan wees.

Daar is nog te min manne wat verantwoordelikheid neem vir aspekte van die spel waar hulle veronderstel is om verantwoordelikheid te neem. Daar is beslis nog te min sterk leiers en daar kan nie van Adriaan Strauss verwag word om alleen vir alles verantwoordelikheid te neem nie.

Hierdie span van Nollis Marais kort nog diepte en ervaring onder die vaste vyf, terwyl ’n werklik kompeterende baljagter ook nog nie in die afwesigheid van Deon Stegmann na vore getree het nie. Die huidige groep skrum- en losskakels het ook genoeg talent om die wa deur die drif te trek, maar hulle kort tyd saam op die veld om selfvetroue te bou. Dieselfde geld die senters en buite-agterspelers.

Te veel ondersteueners van die Bulls wil nou reeds supersterre in elke posisie sien. Hulle het vergeet dat elke goue era van die Bulls/Blou Bulle voorafgegaan is deur ’n sukkel-era. Sodra die hart van ’n span gevestig is in ’n nuwe era, sal die oorwinnings meer word en die span al hoe beter speel, totdat dit ’n ware kampioenspan is.

Die huidige span van die Leeus is ’n goeie voorbeeld. ’n Paar jaar gelede was hulle ’n groep weggegooide spelers van ander provinsies, Varsitybeker-standaard hoopvolle spelers en selfs ander klubspelers wat bymekaar gegooi is in een span. Nadat hul bestuur hulle deur ’n proses van harde werk laat gaan het en ook ’n gelukkige omgewing geskep het waarbinne hulle kon funksioneer, het hulle stelselmatig ontwikkel tot die wenspan wat hulle nou is. Hulle is reeds Curriebeker kampioene en loop tans oor van selfvertroue. Niemand sal verbaas wees as Warren Whitely en sy manne baie naby aan vanjaar se SuperRugby eindstryd kom nie.

Daar kan geen twyfel wees dat Nollis Marais die regte ingesteldheid en vermoë het om van die Bulls ook ’n kampioenspan te maak nie. Dit sal egter tyd neem. Geen afrigter het al ooit met ’n towerstaffie oornag sukses behaal nie.

Die belangrike punt is nou dat die Bulls-familie weer ’n gelukkige groep moet word. Om hierdie proses te laat slaag, moet die hele bestuur op Loftus Versfeld natuurlik saamwerk sodat almal in dieselfde rigting trek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button