Local sportSport

Professionele boksaksie terug in Pretoria

Pretorianers kan die ontwikkeling van jong professionele boksers steun deur op Donderdag 17 Maart die aksie by die professionele toernooi in die Barnyard teater in die ooste van Pretoria by te woon.

Boksliefhebbers in Pretoria sal bly wees om te hoor dat daar nou ’n tweede promotor is wat professionele boksaksie terug wil bring na die hoofstad.

Op Donderdag 17 Maart sal agt professionele gevegte onder die vaandel van The Arena boxing events en Halliday Promotions in die Barnyard Teater in die ooste van Pretoria plaasvind.

Die dryfkrag agter die toernooi is Pretoria se gewese junior swaargewig wêreldkampioen, Sebastiaan Rothmann. ’n Groot deel van die boksers wat deelneem kom ook uit sy gimnasium.

Rothmann het aan Rekord gesê dat te veel jong boksers se loopbane skade ly omdat hulle na té min amateurgevegte aan die diepkant van die professionele arena ingegooi word en dan nie kan oorleef nie. Hulle het te min ervaring en hulle staat van ontwikkeling as boksers is nog nie goed genoeg om byvoorbeeld in ’n groot geveg betrokke te raag wat op TV vertoon word nie.

Volgens Rothmann wil hulle gereeld soortgelyke toernooie aanbied, waar al die gevegte slegs oor vier rondtes beslis word. Hulle hoop om baie boksliefhebbers na die toernooie te lok, sodat die boksers se geestelike ontwikkeling (om gewoond te raak daaraan om voor baie mense te boks) saam met die ontwikkeling van hul fisieke vermoëns sal plaasvind.

Rothmann is baie opgewonde oor die jong Cowin Ray, wat uit sy gimnasium kom, se vertoning by die toernooi. Daar is ook ander name soos Martin Prinsloo, Jay-Jay Scheepers, Len van Nieuwenhuizen, Hendri Jansen, Johan Basson, Robbie Coetzee, Tokkie van den Berg, Munier Cassim, Craven Rorke, Alain Olivier en John “Vleis” Willers by die toernooi in aksie.

’n Vrouegeveg tussen die bekende Liz Butler van Pretoria en Mimi Mauwu van die DRK sal ook deel wees van die aand se vermaak.

Die aksie op 17 Maart sal om 19:00 begin. Vir navrae kan Tom Muller by 082-854-7316 gekontak word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button