Assupol Klubrugby-reeks kroon agt kampioene op Loftus
Agt kampioene in agt verskillende ligas is die afgelope naweek in die gewilde Assupol Klubrugby reeks op Loftus Versfeld gekroon.
Die gewilde Assupol Klubrugby toernooi, wat sedert die eerste week in Februarie oor ses weke beslis is, se eindstryde het die afgelope naweek op Loftus Versfeld se B- en C-velde plaasgevind.
Hoewel hierdie reeks baie vroeg in die seisoen plaasvind, was kenners beïndruk met die kwaliteit van die rugby wat gespeel is.
Top klubspanne van vyf verskillende provinsiale unies was by die toernooi betrokke en ten minste een span uit elke unie was by die eindstryde betrokke. Dit dui op die erns waarmee die verskillende klubs hierdie toernooi benader. Om die kampioen in enige afdeling van die Assupol Klubtoernooi te wees het oor die afgelope paar seisoene groot prestigewaarde gekry.
Altesaam agt kampioene is Saterdag gekroon. Tuine het die enigste o.20 liga se kampioenspan geword toe hulle die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 27-19 geklop het.
In die afdeling vir derdespanne is ook net een kampioen gekroon. Tukkies het die Dragons met 19-18 geklop, nadat die manne uit die noorde kort voor die einde nog voorgeloop het.
In al die ander afdelings was daar twee kampioene, aangesien spanne in verskillende ligas volgens ’n krag-teen-krag beginsel gespeel het.
Tukkies het afdeling A se o.21 liga gewen deur UJ met 21-10 te klop. In die B-afdeling was Wits se o.21’s baas toe hulle TUT in die finaal met 67-7 verslaan het.
Wat die tweedespanne betref het die Pukke van Potchefstroom (Luiperds) vir Ferros van Witbank (Pumas) met 46-3 geklop, terwyl die Dragons van Pretoria ’n taai stryd teen Tukkies met 37-28 gewen het in die A-afdeling.
Die wedstryd tussen Noordelikes van Pietersburg en die Rhino’s van Northam (albei Limpopo Blou Bulle) se eerstespanne in Afdeling B het puik rugby opgelewer en dié twee aartsvyande het mekaar behoorlik opgekeil. Die Rhino’s het uiteindelik met 46-42 gewen.
In die groot finaal, waar Polisie en Tukkies se eestespanne mekaar in die A-afdeling gepak het, was die Bobbies net te sterk vir Tukkies, wat sonder hul Varsitybeker sterre aan die reeks deelneem. Polisie moet beslis ook baie krediet kry. Hoewel hul verskeie spelers weens beserings mis, het hulle Tukkies voorlangs oorheers. Polisie se ster was Xolani Nkosi, wat eers op skrumskakel en later op losskakel die gang van die spel bepaal het. Voorlangs het hul kaptein, Rayno Wasserman hard gewerk en hy is goed ondersteun deur twee veterane, Jerry Sefoko op slot en Luka van Biljon op flank.






























