Local sportSport

Budget Insurance Kolonnade 3-in-1 wedloop lok duisende hardlopers

Die Budget Insurance Kolonnade 3-in-1 padwedloop is vinning besig om die grootste en gewildste wedloop noord van die Magaliesberg te word.

Die Overkruin atletiekklub het Saterdag die tweede Budget Insurance Kolonnade 3-in-1 padwedloop met groot sukses aangebied.

Toe die klub hierdie wedloop verlede jaar vir die eerste keer aangebied het, was dit só gewild, dat daar besluit is om dit ’n jaarlikse instelling te maak. Die sukses van verlede jaar se wedloop het dit ook vir Overkruin atletiekklub moontlik gemaak om aansoek te doen om dit vanjaar as ’n amptelike ligawedloop van Atletiek Gauteng-Noord aan te bied. Dié aansoek is goedgekeur en vanjaar se wedloop het uit sy nate gebars.

Die inskrywings vir al drie wedlope (21,1km halfmarathon, 10km padwedloop en 5km pretdraf) het letterlik verdubbel teenoor verlede jaar en die organiseerders moes raakvat om alles vlot te laat verloop. Dít het hulle só goed gedoen dat verskeie atlete spontaan ná die wedloop die organiseerdes gekomplimenteer het.

“Daar is aan elke klein detail aandag gegee,” het Pieter Venter, ’n atleet van die Vitality klub ingenome aan Rekord gesê.

Ook Barry Meiring, ’n plaaslike atleet van Montana, was baie beïndruk met die wedloop. “Dis een van die beste wedlope waaraan ek in ’n lang tyd deelgeneem het,” het hy ingenome gesê.

Nadat Pretoria verlede week byna die heel week lank reënweer beleef het, kon die atlete nie vir beter weer gevra het tydens die wedloop nie. Daar was geen reën nie, maar omdat die wedloop om 06:00 begin het, kon atlete in koel, windstil weersomstandighede deur die state van die boomryke voorstad, Montanapark, hardloop.

Die vier waterpunte op die roete is ook weer beman deur spanne wat met mekaar gekompeteer het vir die Rekord-trofee, wat aan die beste waterpunt oorhandig word. Waterpunte word beoordeel op grond van aspekte soos hul gees, die oorspronklikheid met die aanbieding en die moeite wat gedoen is. Hoërskool Overkruin se waterpunt is vir die tweede jaar agtereenvolgens as beste waterpunt op die roete aangewys.

Brent Rothmann, Produkbestuurder van die wedloop se hoofborg, Budget Versekeringsmakelaars, het tydens die prysuitdelingsgeleentheid gesê hulle is aangenaam verras met die reuse opkoms van atlete wat deelgeneem het. Hy is deur Susan Steward, Bemarkingsbestuurder van Budget, bygestaan met die uitdeel van pryse aan al die kategoriewenners.

Carloline Wöstmann het die halfmarathon vir vroue gewen, terwyl Bafana Dube eerste oor die wenstreep was in die mansafdeling.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button