Local sportSport

Tuks vroue weer op pad na Frankryk

Tukkies se vroue sewesrugby span toer eersdaags weer na Europa, maar hulle benodig nog spelers om saam te neem.

Die sukses wat Riaan van der Merwe, afrigter van Tuks en die Blou Bulle se vroue rugbyspanne, oor die afgelope jare behaal het, is op ironiese wyse besig om teen hom te tel by sy klub.

Van der Merwe en sy bestuur se sukses met Tukkies se vrouerugby span is welbekend. Dié span is jare lank al gewoond daaraan om op uitnodiging aan groot toernooie oor die wêreld heen deel te neem, waar hulle dan as klubspan met die nasionale spanne van verskeie lande moet meeding.

Ten spyte van hierdie feit het Van der Merwe en sy Tuks-vrouespan al by verskeie geleenthede met silwerware teruggekeer huis toe. Om hierdie rede het hulle een van die gewildste spanne by toernooie geword en word hulle keer op keer weer genooi om deel te neem.

Tuks se sukses het metteryd ook die Bloubul vrouespan se sukses geword, want Van der Merwe is daar ook aangestel as afrigter. Hierdie sukses het so ver uitgebrei dat al hoe meer van Tukkies se spelers deur die nasionale keurders raakgesien is, waarna hulle die Springbokspan gehaal het.

So byvoorbeeld is die helfte van die jongste Springbok vroue sewesrugby span, wat op 7 en 8 April aan die Hong Kong sewestoernooi gaan deelneem, afkomstig uit die Tukkies span. Ten minste nog twee beseerdes is ook deel van die Springbok groep.

Hierdie situasie het Tuks se vrouespan nou in ’n krisis gedompel. Hulle is weer uitgenooi om in Meimaand in twee toernooie in Frankryk (die Stanislas 7’s in Nancy en die Centrale 7’s in Parys) deel te neem. Ironies genoeg het hulle onlangs ook ’n groot borg gekry, wat hul jarelange gesukkel met fondse uitskakel. Nou is Van der Merwe en sy bestuur egter in ’n wedloop teen tyd betrokke om betyds genoeg spelers te kry wat saam kan toer.

Van der Merwe het aan Rekord gesê sy ondervinding is dat vroue wat reeds aan sportsoorte soos netbal en korfbal deelgeneem het, waar hulle ’n bal moet vang, maklik by rugby aanpas. As hulle boonop redelik atleties is, sal hulle maklik dié sport onder die knie kry.

“Vrouerugby is nie so rof soos mansrugby nie. Veral by sewesrugby is daar meer spasie en die laagvatte is nie so tegnies soos dié van mansrugby nie,” het Van der Merwe gesê.

Hy doen ’n beroep op alle belangstellendes ouer as 18 om by Tukkies se oefeninge aan te meld op Maandae, Woensdae en Donderdae vanaf 18:00.

“Ons benodig dringend spelers en daar is natuurlik die geelwortel van ’n reis na Frankryk oor ’n maand vir diegende wat goed genoeg is om ons span te haal”, het Van der Merwe gesê.

Belangstellendes kan Riaan van der Merwe skakel by 083-310-3972.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button