Local sportSport

Carltonbekerreeks skop af sonder twee ou staatmakers

Hoewel sommige klubs nie meer kans sien om op top vlak aan die Carltonbekerreeks deel te neem nie, word ’n verbete stryd veral tussen vier klubs in Pretoria verwag om vanjaar as die Blou Bulle se kampioen gekroon te word.

Klubrugby in Bloubulland is alweer onder druk, nadat die eens gesogte Carltonbeker liga verlede week afgeskop het sonder twee staatmakers van die afgelope seisoene.

Die Oostelikes/Eagles klub het eers aansoek gedoen om vir ’n tyd lank af te skuif na die Eersteliga (deesdae die Carltonbeker B-liga), maar hul probleme het nie opgehou nie. Daarna het hulle tydelik met Harlequins saamgesmelt, hoewel hulle by die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) aansoek gedoen het om vir ’n jaar “op ys geplaas te word”. Of dié klub weer sal herrys sonder hul eie velde en klubgeriewe is te betwyfel.

Kort op Oostelikes/Eagles se hakke het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) ook vrywillig aansoek gedoen om na die laer liga (Carltonbeker B-liga) af te skuif. Dié klub ly veral onder die politieke onrus op hul kampusse en hulle rugby het die afgelope paar seisoene drasties agteruitgegaan.

Intussen is die Dragons van die noorde (Montana-omgewing) se verhaal darem ’n bietjie goeie nuus vir klubrugby in Pretoria. Dié klub het die Eersteliga vir etlike seisoene oorheers en einde verlede seisoen uiteindelik aansoek gedoen om na die Carltonliga bevorder te word. Die klub word oral geloof vir die professionele wyse waarop hulle bestuur word en hulle behoort ook later vanjaar na hul nuwe klubfasiliteit in Montana te verhuis, waar hulle oor ’n eie klubhuis en velde sal beskik.

Intussen is die Impala klub van Rustenburg ook weer toegelaat om vanjaar teen spanne in die Carltonliga te speel. Dié klub, wat enkele seisoene gelede nog die nasionale klubkampioen was, versterk ten minste die opposisie vir plaaslike klubs. Anders as verlede jaar sal al die ander Carltonbekerklubs vanjaar verplig word om teen Impala te speel en hulle sal op die puntelys as een van die sewe Carltonbekerklubs hanteer word. Tog sal hulle nie kan kwalifiseer om die Carltonbeker te wen nie. Hulle sal steeds teen die beste plaaslike span kan uitspeel om die Platinum beker, wat afsonderlik van die Carltonbeker staan.

Daar bly dus net ses klubs oor wat vir die Carltonbeker kompeteer. Dit is (in alfabetiese volgorde) Centurion, Dragons, Harlequins, Naka Bulle, Polisie en Tukkies.

’n Verbete stryd kan vanjaar tussen die top vier spanne in die reeks verwag word. Hulle is Centurion, Naka Bulle, Polisie en Tukkies.

Centurion het reeds hul stem dik gemaak deur Polisie in die eerste rondte met 29-23 te klop, terwyl Naka Bulle vir Tukkies harde bene laat kou het in die tweede rondte. Tukkies het net-net met 23-20 gewen. Die manne van die Moot het in die eerste rondte vir Harlequins met 48-8 afgeslag.

Die Dragons het hul veldtog die afgelope naweek met ’n oorwinning van 27-16 teen Harlequins begin.

Eerskomende naweek speel die twee ou aartsvyande, Tukkies en Polisie teen mekaar, terwyl Centurion gasheer sal speel vir Naka Bulle. Die Dragons reis na Rustenburg om teen Impala te speel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button