Local sportSport

Sukkelende Tuks laaste op Carlton puntelys ná nóg ’n nederlaag

Nadat Tukkies die afgelope naweek hul tweede nederlaag van die Carltonbeker seisoen gely het én nadat hulle vroeër punte verbeur het deur nie teen Impala te speel nie, is dié Universiteit se rugbyspan tans in die ongewone laaste posisie op die Carltonbeker puntelys.

Bittermin liefhebbers van klubrugby sal kan onthou wanneer laas Tukkies byna halfpad deur die Carltonbeker seisoen heel onder aan die puntelys van dié gesogte kompetisie was.

Nie eers in die donker jare rondom die draai van die eeu so vyftien seisoene gelede was Tukkies in só ’n swak posisie nie. Met die eerste vyf wedstryde agter die rug is die studente egter heel onder aan die puntelys met slegs vyf ligapunte, nadat hulle die afgelope naweek naelskraaps met ’n eindtelling van 18-15 teen Centurion op laasgenoemde se tuisveld verloor het.

* Dit was ’n baie spannende stryd en tot Tukkies se krediet moet genoem word dat hulle die enigste twee drieë van die wedstryd gedruk het. Centurion het egter op die telbord bygebly danksy die skopskoen van hul skeprskutter-losskakel, Gaybrin Smith.

Teen rustyd was Tukkies nog met 15-9 voor. Hulle het egter die veggees van die Centurion-manne onderskat en hul kaptein, Pieter Griesel, het vele geleenthede om punte met strafdoele na die pale aan te teken van die hand gewys om eerder lyn toe te skop en dan oor die doellyn te probeer dryf. Centurion se voorspelers het die studente egter man-vir-man getroef en hulle met puik verdediging van die doellyn weggehou. Dit het ook nie gehelp dat Tukkies se skrum telkens in trurat was nie en ernstige vrae sal oor hul strategie en hul dissipline gevra moet word. Daar was ’n paar rammetjie-uitnek spelers aan Tuks se kant – onder wie manne wat onlangs nog vir die Blou Bulle se junior spanne uitgedraf het – wat hul saak niks goed gedoen het nie en aan hulle ’n stigma oor hul dissipline kan gee.

Centurion beskik oor ’n baie goeie pak voorspelers en as hulle ’n bietjie meer spoed agterlangs kan inbring sal hulle moeilik in hierdie reeks geklop word.

* Harlequins het die afgelope naweek gewys dat hul skok-oorwinning oor Centurion van twee weke gelede geen vloekskoot was nie. Hulle het hul bure van oorkant Totiusstraat in Groenkloof goed skrikgemaak, maar Polisie kon uiteindelik daarin slaag om net-net met 14-13 te wen.

Albei spanne het ’n enkele drie gedruk en die een strafdoel wat Polisie meer as hul teenstander in punte kon omskep het die verskil gemaak. Andersinds was dit ’n genadelose harde stryd en dit wil voorkom of Harlequins groot baat gevind het by hul samesmelting met Oostelikes. Dit het beslis hul hele klub versterk, nie net die eerstespan nie.

Polisie, wat die afgelope dekade reeds die Carltonbekerreeks saam met Tukkies oorheers, sal beslis ook hul sokkies moet optrek. Hulle het verlede week ’n skok-nederlaag teen die nuweling, Dragons, gely en hierdie naweek gesukkel teen Harlequins. Hoewel dié tipe uitslae goed is vir die Carltonbeker toernooi is dit nie goeie nuus vir Polisie se planne in vanjaar se Gemeenskapsbeker toernooi nie.

* In die derde wedstryd van die afgelope naweek het Naka Bulle die Moot vs Noord derby redelik maklik met 30-15 teen Dragons gewen.

Naka Bulle het sake deurentyd beheer en uiteindelik vier drieë teen die twee van Dragons gedruk. Die manne van die noorde het egter goed van hulself rekenskap gegee en kon met ’n bietjie geluk selfs beter gevaar het.

Met hierdie oorwinning het Naka Bulle nou hul plek bo aan die puntelys verstewig met 17 ligapunte, Centurion lê in die tweede plek met 14 punte, terwyl Polisie met 10 punte derde is. Dragons (8) is vierde en Harlequins (6) vyfde, terwyl Tukkies in die laaste plek lê met hul 5 ligapunte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button