Dragons sorg vir nóg ’n skok in Carltonbeker
Skok-uitslae het blykbaar deel geword van vanjaar se Carltonbeker toernooi, nadat Tukkies die afgelope naweek deur die nuwelinge in die reeks geklop is.
Dit lyk of 2016 vir die Carltonbeker rugbytoernooi ’n jaar van opskuddings gaan wees.
Die nuwelinge in die reeks, Dragons, was hierdie week wéér daarvoor verantwoordelik dat liefhebbers van klubrugby Saterdagaand in hul bierglase gestik het toe dié jong Turke Tukkies met 24-17 geklop het.
* Tukkies se rugbyklub is baie duidelik in die moeilikheid. Behalwe vir die feit dat hulle eerstespan vanjaar nog net een uit vyf wedstryde in die Carltonbeker liga kon wen, vaar hul ander spanne nie naastenby so goed soos in die verlede nie. Teen die Dragons, wat ’n jong klub in die noorde van Pretoria is, kon slegs die studente se o.21 span ’n oortuigende oorwinning behaal.
Die dag as ’n jong oopklub se derdespan byvoorbeeld die Tuks Pumas met 20-5 klop, moet ’n mens weet daar is ’n skroef los by die universiteit se rugbyklub.
Daarteenoor kan die professionele aanslag van die Dragons geloof word. Dié klub kon verlede seisoen al opgeskuif het na die Carltonliga, maar het besluit om nog ’n jaar te wag en hulself gereed te maak. Nou pluk hulle die vrugte van harde werk en die regte aanslag onder die bekwame leiding van afrigters soos Johan du Toit en die uitgeslape en ervare André Eloff.
In die wedstryd tussen die eerstespanne het Tukkies teen rustyd met 10-3 voorgeloop. Die Dragons het egter in die tweede helfte drie drieë gaan druk, terwyl Tukkies slegs een keer die doellyn kon oorsteek.
Terwyl Tukkies nou, met een rondte wedstryde oor voor die halfpadmerk in vanjaar se reeks bereik word, sal moet uithaal om nog die uitspeelrondtes te haal, is dié doelwit binne die bereik van die Dragons. Hulle is tans vyfde op die puntelys, maar met Impala wat nie vir die Carltonbeker kan kwalifiseer nie moet die manne uit die noorde net hul huidige posisie behou om in die halfeindrondte te speel.
* Die wedstryd tussen Polisie en Naka Bulle het vir die eerste gelykop uitslag van die toernooi gesorg. Die twee spanne het met 15-elk gelykop gespeel.
Die wedstryd is in nat en koue toestande afgehandel maar die rugby was soms kookwater met ’n kwaai stryd wat veral onder die twee pakke voorspelers gewoed het.
Naka Bulle het reeds in die eerste helfte hul staatmaker losskakel, Anthony Bestwick, weens harsingskudding verloor. Dit het waarskynlik hul planne erg deurmekaargekrap.
Polisie het twee keer gaan druk – een keer in elke helfte. Hulle was teen rustyd nog met 8-3 voor, maar Naka Bulle se agtsteman, Jean-Pierre Alberts, was die manne van die Moot se groot held. Hy het gewys voorspelers kan ook skop toe hy vyf strafdoele deur die pale geklits het om die gelykop uitslag af te dwing.
* Ná twee weke waarin Harlequins met nuwe ywer gewys het dat hulle ook vanjaar hul standaarde begin lig het, het Impala van Rustenburg die Blokkiestruie die afgelope naweek weer terug gebring aarde toe. Die Noordwesters het Quins met 54-22 verniel.
Terwyl Impala se span krioel van spelers met provinsiale- en Varsitybeker ervaring, het Harlequins nooit gaan lê nie. Hulle het self drie keer gaan druk, maar dit was nie genoeg om te antwoord op die manne van Rustenburg se agt drieë nie.
Harlequins het wel weer hul diepte gewys toe hul derdes en beide hul junior spanne (o.21 en o.20) met Impala afgereken het.
* Eerskomende naweek bereik die kompetisie sy halfpadmerk met Polisie wat Rustenburg toe reis om teen Impala te speel, Centurion wat die Dragons sal ontvang en Harlequins op hul tuisveld in Groenkloof teen Tukkies sal uitdraf.
