Garsies maak dit drie in ‘n ry teen Klofies
Garsfontein is weer die Makroskole kampioen in die Beeltrofee se plaaslike afdeling, nadat hulle Waterkloof die afgelope naweek oortuigend geklop het.
Dit het Hoërskool Garsfontein lank geneem om hul aartsvyand, Hoërskool Waterkloof, die eerste keer op die rugbyveld te kon klop, maar nou is hulle besig om ’n gewoonte daarvan te maak.
Nie net het Garsfontein se Bere hul bure van Waterkoof die afgelope Saterdag vir die derde jaar in ’n ry pak gegee nie, maar hierdie keer het hulle ook die eerste vyftigtal teen die Klofies behaal toe hulle Saterdag se VirSeker Beeldtrofee wedstryd met 50-10 op Waterkloof se tuisveld gewen het.
Met hierdie oorwinning het Garsfontein ook seker gemaak dat hulle vir die derde jaar agtereenvolgend gekroon word as die Virseker Beeldtrofee se Makroskole kampioen in die Blou Bulle-streek, nadat hulle vroeër ook met Menlopark afgereken het. Hulle is steeds onoorwonne in die liga en sal regstreeks na die kwarteindrondte van die algehele Noordvaal liga in dié reeks vorder.
Garsfontein, wat ook die algehele verdedigende kampioen in die Beeldtrofee se kompetisie vir Makroskole is, het net te veel skietgoed vir Waterkloof gehad en hulle het die Klofies veral voorlangs behoorlik oorheers. Tot Waterkloof se verdediging kan gesê word dat hulle in ’n boufase is met heelwat van hul spelers wat volgende jaar weer vir die span beskikbaar sal wees.
Teen rustyd was Waterkloof tegnies nog in die wedstryd met die telling op 17-5 in die guns van Garsfontein, hoewel die Bere toe reeds gewys het dat hulle lus is om drieë te druk met hul opwindende hardlooprugby. Na rustyd het die damwal gebreek en nóg vyf drieë is by die drie van die eerste helfte gevoeg, terwyl Waterkloof in die hele wedstryd net twee keer die doellyn kon oorsteek.
Die Klofies sal die 2016 seisoen so gou moontlik wil vergeet, nadat hulle ’n paar weke gelede ook ’n vyftigtal teen hul ander aartsvyand, Affies, afgestaan het.
* Intussen sal Eldoraigne en hul aartsvyand van anderkant die Ou Johannesburgpad in Centurion, Zwartkop, moet uitspeel om te bepaal watter een van hulle sal deurgaan na die kwarteindrondte van die Beeldtrofee. Zwartkop het Eldoraigne vroeër vanjaar geklop.







