Dis Tuks teen Naka Bulle en Polisie teen Centurion
Die vier kandidate vir eerskomende naweek se Carltonbeker halfeindstryde is uiteindelik bekend.
Tukkies het die afgelope naweek daarin geslaag om bo aan die Carltonbeker punteleer te eindig met ’n kliniese vertoning oor die hoopvolle nuwelinge, die Dragons.
Na hul swakste begin in baie jare, waarin die studente op ’n stadium heel onder aan die puntelys geboer het, het hulle hulself reggeruk en kan hulle nou spog met sewe oorwinnings op ’n streep sedert 21 Mei. Dit het hulle is staat gestel om stelselmatig die punteleer te klim om uiteindelik heel bo te eindig met 41 ligapunte.
Dis ook nodig om Tukkies se oorwinning van 47-12 oor die Dragons in perspektief te stel, veral nadat die studente so maklik ses drieë kon druk én die manne van die noorde nie ’n enkele drie gegun het nie.
Dié nuwelinge in vanjaar se Carltonbekerreeks was die verrassing van die seisoen. Hulle is puik afgerig deur die belowende Johan du Toit en Rouan Cloete onder die wakende oog van die ou Jakkals, André Eloff, wat as direkteur van rugby aangestel is by die klub. Dié klub se bestuur verdien beslis ook ’n klop op die skouer vir die wyse waarop hulle hul toetrede tot die Carltonliga beplan en bestuur het. Dit was nie, soos in ander vorige gevalle, ’n poging waarin net ’n klompie sterre met geld gelok is om die eerstespan sterk te maak, wat dan die klub se beeld moes dra nie. Dragons se ander spanne was ewe kompeterend en sover bekend het al hul spanne gekwalifiseer vir die uitspeelfase. Dié klub se sake lyk gesond en ’n mens kan maar net hoop dat hulle planne om ’n eie fasiliteit en speelvelde te bekom binnekort sal realiseer, want die Carltonbeker het dringend ’n sterk kompeterende klub noord van die Magaliesberg nodig.

Foto: Hein Roos
Die Dragons se eerstespan kon deur die seisoen daarin slaag om ten minste een keer met al vier die halfeindrondte-kandidate af te reken, terwyl hulle selfs vir Impala ook een keer pak gegee het.
Dit bring Tukkies se vertoning van die afgelope naweek in perspektief en wys daarop dat die studente beslis tans die span is om te klop vir enige ander klub wat aspirasies het om Carltonbeker kampioen te word.
Die halfeindstryde, wat eerskomende naweek gespeel word, sal nou beslis word tussen Tukkies en Naka Bulle, terwyl Polisie en Centurion in die ander stryd teen mekaar te staan kom.
Centurion het die Bobbies reeds twee keer vanjaar geklop, maar Polisie het hulself reggeruk en die ligabepalings met vier agtereenvolgende oorwinnings afgesluit. Dié stryd sal dus waarskynlik so hard, genadeloos en spannend wees soos enige uitspeelstryd tussen dié twee Carltonbeker reuse in die verlede.
Naka Bulle het teen die einde van die eerste rondte gelyk na die span om te klop in vanjaar se reeks, maar hulle het effens gesukkel in die tweede ronde. Die statistiek vertel egter ’n interessante storie oor dié klub. Hoewel hulle vierde geëindig het, het hulle naas Tukkies die tweede meeste drieë gedruk én ook die tweede minste drieë afgestaan. Daarbenewens beskik hulle oor ’n monster pak voorspelers, terwyl hulle in die agterlyn beslis ’n paar wedstrydwenners het.
Liefhebbers en kenners van klubrugby wat die agtergrond ken, sal weet: As daar een span is wat uitgehonger is om Tukkies te klop, is dit dié manne van die Moot.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
