AB de Villiers stel outobiografie by Affies bekend
Die krieket superster, AB de Villiers, se outobiografie is verlede week by sy alma mater, Afrikaans Hoër Seunskool, aan Pretorianers bekendgestel.
Hy is van kleintyd af geboelie deur sy twee ouer boers, maar vandag glo hy sy kinderlewe op Warmbad as die jongse van die plaaslike geneesheer, dr. AB de Villiers, se drie seuns het hom die kompeterende sportman en leier gemaak wat hy vandag is.
Hierdie erkenning kom van AB de Villiers jr, die Suid-Afrikaanse krieketkaptein, wat sy nuwe outobiografie verlede week by sy gewese skool, Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), aan Pretorianers bekendgestel het.
Sowat 200 gaste, wat verskeie krieketspelende seuns van Affies ingesluit het, was teenwoordig toe De Villiers vrae van die media en die publiek beantwoord het by die boekbekendstelling.
Op ’n vraag of hy, soos Herschelle Gibbs en Kevin Petersen, probeer het om ’n topverkper te skryf deur omstrede sake kaalkop aan te vat, het De Villiers gesê die doel van sy boek is nie om ander mense te benadeel nie. Hy wou eerder die boek skryf om sy eie reis van ’n onseker jongman wat in sy vroeë twintigerjare op talent alleen staatgemaak het en “nie aldag geweet het wat die datum is of waarheen ek op pad is nie” tot by die doelerigte wêreldster van 2016 neer te pen.

Foto: Koos Venter
De Villiers het onthul dat hy as skoolseun soms onhebbelik stout was – so erg dat hy selfs op ’n stadium uit Affies se koshuis geskors is. As jong student het hy ook byna die pad byster geraak, maar hy vertel in die boek van die mense en gebeure wat hom op die regte koers gebring het tot waar hy vandag as een van wêreldkreket se supersterre beskou word.
“Ek het letterlik op ‘n nostalgiese reis in my verlede gaan ronddelf. Ek het selfs belangrike plekke besoek waar ek groot oomblikke beleef het en dít het my nie net gehelp om die boek met eerlikheid te skryf nie, maar dit het my ook weer laat besef hoe dankbaar ek moet wees dat alles vir my goed uitgewerk het. Nie almal is so bevoorreg nie,” het hy vertel.
Daar is natuurlik ook baie vertellings oor sy krieketreis en volgens hom lig hy ook die sluier oor dinge wat agter die skerms op toere gebeur. In hierdie verband het hy vertel hoe bang ’n man soos Graeme Smith vir spoke is en hoe dit al deur sy spanmaats uitgebuit is op toere. Hy het egter die gehoor verseker dat hy baie respek het vir Smith en ander senior spelers wat hom soos sy ouer broers moes lei toe hy as 20 jarige speler vir die eerste keer die nasionale span gehaal het.
De Villiers het op emosionele wyse ook vir dr. Pierre Edwards bedank vir die rol wat hy en senior onderwysers in sy lewe gespeel het in sy vyf jaar as leerling van Affies. “Ek kan eerlik sê ek het vyf van my gelukkigste jare hier op Affies beleef,” het hy gesê. Hy het ook vertel dat hy en sy jarelange vriend en skoolkoshuis-kamermaat, Faf du Plessis, vandag nog mekaar aanpor met hul leuse van “Affie-durf” as hulle saam kolf.
Rekord sal binnekort ‘n volledige resensie oor De Villiers se outobiografie publiseer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
