Local sportSport

Jong Affie moker moontlike wêreldrekord met krieketkolf

’n Onder 14 krieketspeler van Affies het moontlik ’n wêreldrekord opgestel toe hy ‘n dubbel honderdtal in 'n T20 skolewedstryd geslaan het.

Staan opsy AB de Villiers en Faf du Plessis, daar is nog ’n Affie met ’n breë krieketkolf op pad.

Dít is sekerlik die gedagte wat opgekom het by toeskouers wat die 14-jarige Maarten van Aswegen, ’n o.14 krieketspeler van die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), onlangs sien kolf het. Dié twee Protea sterre is albei ook oud Affies.

In ’n amptelike T20 wedstryd tussen twee o.14 spanne van Affies en Sutherland High School in Centurion het Van Aswegen en sy mede openingskolwer ’n allermintige 317 lopies in net 20 boulbeurte geslaan. Dit beteken dus dat hulle met net 121 balle (daar was een ekstra bal weens’n foutbal) meer as dubbel soveel lopies kon opstapel.

Hoewel sy vennoot, Ludik Alberts, self die krane oopgedraai het met sy 76 lopies van net 38 balle (insluitend 12 viere en twee sesse) was dit Van Aswegen wat die monde laat oophang het met sy reuse beurt van 216 lopies van net 83 balle.

Van Aswegen het in sy beurt nie net 21 viere en 17 sesse gemoker nie, maar hy het by twee geleenthede sesse so ver oor die grens geslaan dat niemand die bal kon terugkry nie. Daar moes dus telkens ander balle gevind word om die boulbeurt te voltooi. Sy treftempo in hierdie beurt was ’n ongelooflike 260,24.

Die hoogste telling wat ooit deur een speler in ’n professionele wedstryd aangeteken is, is dié van Australië se Aaron Finch (156) teen Engeland in 2013. Australië se 263/3 teen SriLanka sowat ses weke gelede is ook amptelik die hoogste telling wat ’n professionele span ooit aangeteken het.

Dis egter baie moeilik om te bepaal of hierdie telling (317 lopies sonder die verlies van ’n paaltjie) dalk kan kwalifiseer vir een of ander wêreldrekord, aangesien nie alle klub- en skolewedstryde se statistiek geredelik beskikbaar is nie. Sover vasgestel kon word was daar nog nie so ’n groot telling in ’n amptelike wedstryd nie.

Van Aswegen se prestasie het egter nie by sy span se kolfbeurt geëindig nie. Tydens Sutherland se kolfbeurt het hy boonop twee paaltjies geneem in sy toegelate vier boulbeurte, terwyl hy net 14 lopies afgestaan het.

Hoewel krieket dié seun van Midstream in Centurion se gunsteling sport is, is Van Aswegen ook ’n puik landloop atleet. Hy het Gauteng-Noord vanjaar by die nasionale landloopkampioenskappe in George verteenwoordig.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button