Sosiale rolbal lok oud en jonk
Vier rolbalklubs in die Moot en Ooste van Pretoria het saamgespan om ’n sosiale aandreeks te begin waaraan enigiemand kan deelneem, selfs al het hulle nog nooit voorheen die spel gespeel nie.

“Dis nie meer lekker om rugby te kyk nie, nou kom speel ons maar liewer rolbal”.
Dít was die mening van een van die talle spelers wat onlangs aan rolbal bekendgestel is nadat hy genooi is om aan klubs soos Villieria, Innesdal, Colbyn en Lynnwood se sosiale aandreeks deel te neem.
Rekord het Villieria Rolbalklub onlangs besoek, waar die laaste wedstryde in vanjaar se aandreeks gespeel is. Die klub was ’n miernes van bedrywighede met oud en jonk wat saam op die baan was terwyl verskeie wedstryde aan die gang is.
Wessel Oosthuizen, president van Villieria Rolbalklub, het verduidelik dat dié aandreeks ingestel is om nuwe spelers te lok en dit lyk of dit ’n reuse sukses is. Spelers hoef nie in formele rolbalklere te speel nie en daar is genoeg houte, soos die balle waarmee daar gespeel word bekendstaan. Nuwelinge hoef dus nie dadelik hul eie houte aan te koop voor hulle nie besluit het of die gogga hulle behoorlik gebyt het nie. Hulle kan net gemaklik aantrek en veral gemaklike skoene dra wat nie die baan sal beskadig nie.
Dit lyk egter of dié gogga sommer maklik byt, want die baan waarop gespeel is was vol, met sowat ses wedstryde wat gelyktydig gespeel word. Die jongste speler op die baan was die 17-jarige Cuan Lane en hoewel Cornie Heystek al 86 is, speel sy ook nog ywerig saam.
Daar word om die beurt by die vier klubs bymekaargekom en die wedstryde word hoofsaaklik onder vloedligte gespeel. Na afloop van die rolbal word daar saam gekuier en die dames van die tuisklub sorg gewoonlik vir heerlike versnapperings. Stewige kontantpryse in verskillende afdelings is ook op die spel.
Oosthuizen is van mening dat rolbal een van die min sportsoorte is waar families saam kan ontspan terwyl hulle deelneem aan ’n georganiseerde sportspoort. Hy doen ’n beroep op belangstellendes tussen die ouderdomme van 15 en 75 om by die klub aan te sluit en die spel te leer speel.
“Dis goeie stresontlading en mense is gewoonlik verbaas hoeveel fisieke ofening hulle kry. Onthou, ’n rolbalwedstryd kan enigiets van een en ’n halwe uur tot drie ure duur. Jy stap dus baie en dan kry jy nog die voordeel om aktief te wees in die buitelug,” het hy verduidelik.
Kontak Oosthuizen gerus met navrae by 082-485-1027.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



