Local sportSport

Leeus klop Blou Bulle met terugveg poging op Loftus Versfeld

Die Blou Bulle is met hul rug teen die muur in vanjaar se verkorte Curriebeker toernooi ná hul nederlaag teen die Goue Leeus in ‘n opwindende Jukskei-rivier derby in Pretoria.

Die Blou Bulle se 2018 Curriebeker veldtog het Saterdagaand behoorlik ontspoor toe die Lions hulle met 38-35 op Loftus Versfeld geklop het.

Die Tuisspan het die handjievol ondersteuners wat die moeite gedoen het om hulle op Loftus Versfeld te kom ondersteun sommer vroeg laat twyfel of dit die moeite werd was. Skokkende swak verdediging het die Leeus in staat gestel om binne die eerste paar minute verskeie bresse te slaan en die wedstryd was skaars vier minute oud toe die Leeus se losskakel, Shaun Reynolds, langs die pale oorduik vir die middag se eerste vyfpunter.

Hanro Liebenberg het hard met sy manne gepraat en hulle kon daarin slaag om dadelik terug te slaan, toe hulle besit van die afskop af kon omkeer en aan André Warner die geleentheid bied om kleinkantjie om te breek vir ‘n puik drie.

Na hierdie vinnige begin het die manne kans gekry om hul voete te vind en na ‘n paar fases en goeie dryfspel het Ruan Steenkamp oorgeduik vir die Bulls se tweede drie.

Die laaste halfuur van die eerste helfte het basies dieselfde patroon gevolg met albei spanne wat die bal lug gegee het, maar terselfdertyd aan hul teenstanders kanse gebied het met halfhartige verdediging.

Op hierdie wyse het die Lions via flank James Venter en skrumskakel Dillon Smit nog twee keer gaan druk, terwyl die Blou Bulle self nog twee keer die doellyn kon haal. Johnny Kotze was eerste aan die beurt, terwyl die hardwerkende Steenkamp ná die rustyd toeter sy tweede drie van ‘n dryfbeweging gaan druk het.

Teen rustyd was die Blou Bulle dus met 28-21 voor.

Na die breuk het die aard van die wedstryd begin verander en sake het veral voorlangs taai geraak. Die twee spanne het albei meer van dryfspel vanaf die lynstane begin gebruik maak, terwyl die Lions selfs ‘n slag pale toe gemik het met ‘n strafskop.

Stoney Steenkamp se derde drie het aan die Blou Bulle ‘n voorsprong van 11 punte gegee en halfpad deur die tweede helfte was Hanro Liebenberg en sy manne in beheer van die wedstryd. Dit wou lyk of hulle besig was om die Leeus ore aan te sit.

Die manne van Johannesburg het egter gewys waarom hulle die afgelope paar seisoene al so ‘n gedugte span is met ‘n terugvegpoging in die laatse kwartier.

Vir die Blou Bulle het dinge begin skeefloop toe ‘n strafdoel by hul doellyn omgedraai is ná ‘n beslissing van die TV-skeidsregter oor ‘n oortreding by ‘n vorige losskrum. Hulle kon die bal veldaf skop en vanaf die lynstaan het hulle begin aanval. Dié beweging het uitgeloop op ‘n drie vir die blitsvinnige agtsteman, Hacjivah Dayimani, wat selfs vir die tuisspan se vleuels weggehardloop het op pad doellyn toe.

Die laaste spyker in die Blou Bulle se doodskis was Dayimani se tweede drie vier minute later, wat die Leeus vir die eerste keer sedert daardie vyf minute aan die begin weer laat voorloop het. Die Bulle kon nie herstel van dié blitzkrieg nie. Verskeie kanse is deur swak hantering en swak skrumwerk verongeluk.

PUNTEMAKERS:

BLOU BULLE: 35 Drieë: André Warner, Ruan Steenkamp (3), Johnny Kotze. Doelskoppe:  Manie Libbok (5).

GOUE LEEUS: 38 Drieë: Shaun Reynolds, James Venter, Dillon Smit, Hacjivah Dayimani (2) . Doelskoppe: Shaun Reynolds (5). Strafdoele:  (1)

Skeidsregter: Rasta Rasivenge

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button