Local sportSport

Groot vordering vir amateurrugby onder Bulle se nuwe bestuur

Die Blou Bulle se nuwe bestuur is besig om met innoverende projekte die unie se amateurspelers voor te berei vir ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika waar rugby op dié vlak weer ‘n groot rol gaan speel om die spel se toekoms te verseker.

Die Bulls se gesukkel in vanjaar se SuperRugby toernooi en die Blou Bulle se wankelrige begin in die Curriebeker reeks is ‘n bitter pil om te sluk vir ondersteuners van die eens gevreeste Bloubul.

In die binnekring van Loftus Versfeld is daar egter deesdae ‘n gevoel van afwagting en selfs opgewondenheid oor die toekoms. Die rede hiervoor is dat diegene wat rugby van binne goed ken, glo dat die unie stadig maar seker besig is om in die regte rigting te beweeg om weer ‘n leier in Suid-Afrikaanse rugby te word.

Hierdie woorde mag vreemd klink vir oningeligtes, maar diegene wat die realistiese rugby-dokters se diagnose oor Suid-Afrikaanse rugby gesien het, sal weet dat die gewone ou pilletjies nie langer gaan help om die spel van ondergang te red nie. Iets anders moet gedoen word – en daarvoor is daar rugby-dokters nodig wat vars en innoverend kan dink en doen.

Dié situasie vra vir progressiewe rugbydenke van leiers wat die spel op álle vlakke goed ken. Diegene wat wéét glo daarom dat die Blou Bulle se nuwe president – wat sommer dadelik ook as voorsitter van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) die leisels oorgeneem het – die regte man op die regte tyd is om van die Blou Bulle weer ‘n leier-organisasie te maak in die nuwe bedeling wat Suid-Afrikaanse rugby volgens alle aanduidings binnekort sal betree.

Willem Strauss het in Maartmaand die leisels by Gert Wessels oorgeneem as president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU). Hy is ondersteun deur ‘n nuwe bestuur, wat einde 2017 aan bewind gekom het. Net soos Strauss word dié bestuur – gelaai met jong en innoverende rugbymanne – gedryf deur die besef dat dringende vernuwing en verandering nodig is om rugby in Suid-Afrika van ondergang te red.  Die gevolg was dat die wiele vanaf die eerste week van Strauss se bewind aan die rol gesit is op pad na ‘n nuwe aanslag.

Strauss het besef dat sy taak om die Bulle se eer en glorie te herstel op twee pilare gaan rus. Natuurlik moet die professionele been se droewige resultate aangespreek word, want die ondersteuners wil weer bekers in die trofeekas op Loftus sien. Dié taak is egter ingewikkeld en ‘n tydsame proses, maar Strauss en sy bestuur glo hulle sal dit stap vir stap regruk.

Die ander pilaar waarop die toekoms van rugby in Suid-Afrika swaar gaan rus is die herstel van die statuur en krag van amateurrugby en die vestiging van ‘n stelsel waar rugby op dié vlak nader aan die professionele been beweeg om oorgang tussen die twee na weerskante toe te vergemaklik.

Met sy ervaring van byna drie dekades as administrateur, spelersagent en promotor het Strauss die afgelope maande ‘n reuse rol gespeel om die raamwerk te ontwerp waardeur Suid-Afrikaanse rugby ‘n meer aanvaarbare model kan skep om die spel in die toekoms ‘n kans te gee om te oorleef te midde van al die uitdagings wat dit in die gesig staar.

Daar is onmiddelik begin met ‘n projek om die Bulls se professionele opset (spelers en afrigters) en hul ondersteuners op grondvlak weer met mekaar in kontak te bring met besoeke van die span aan klubs in drie uithoeke van Pretoria. Hierdie aksie was ‘n reuse sukses en dit het persepsies aan beide kante van die spektrum met realiteite vervang.

Daarna is die tradisieryke Loftus 200 span weer laat herleef. Dié span word saamgestel uit die vier Carltonbeker klubs en speel dan teen professionele spanne om die krag en standaard van klubrugby te toets.  Dié span, wat in sy eerste wedstryd vanjaar saamgestel is uit spelers van ABE Midas Naka Bulle en die Quins-Bobbies rugbyklub, het teen die Curriebekerspan van die Valke uitgedraf en net-net verloor.

Die Loftus 200 span speel op 14 September weer op Loftus Versfeld teen ‘n span van die Goue Leeus. Hierdie keer sal die span saamgestel wees uit spelers van Tukkies en Centurion.

Daarna sal ‘n Loftus 200 span in Oktober in Kenia gaan toer om in twee wedstryde dié land se nasionale span te speel. Kenia, wat saam met Hong Kong, Duitsland en Kanada in November in die sogenaamde ‘Repechage’-toernooi gaan speel om die 20ste en laaste kwalifiseerder vir 2019 se wêreldbeker toernooi te bepaal, sal hierdie wedstryde teen die Loftus 200 span gebruik as voorbereiding vir hul finale aanslag op ‘n plek in volgende jaar se skouspel in Japan.

Met Strauss se bemiddeling gaan ABE Midas Naka Bulle ook in November vanjaar hul voorbereiding vir volgende jaar se Gouebeker toernooi begin met twee wedstryde teen Zimbabwe se nasionale span in Bulawayo. Zimbabwe se Sables word deesdae afgerig deur die voormalige Springbok afrigter, Peter de Villiers.

ABE Midas Naka Bulle se juniors gaan op dieselfde toer ook teen ‘n o.23 span van Zimbabwe speel.

Nie een van die bogenoemde toere sal die Blou Bulle geld kos nie, aangesien die nasionale unies van Kenia en Zimbabwe die koste sal dra.

Danksy die borgskap van Just Victorious Living (JVL) produkte sal die Blou Bulle ook in staat wees om binnekort die voormalige Platteland-amateurtoernooi te laat herleef.  In dié toernooi, wat by die Tuine Sportklub in Pretoria aangebied gaan word, sal twee Bloubul amateurspanne dié unie teen spanne van die Limpopo Blou Bulle, die Leeus en die Luiperds verteenwoordig. Die twee Bloubul spanne sal gekies word uit klubs wat vanjaar in die unie se B- en C-ligas meegeding het.

Ook in sewesrugby is daar geleenthede geskep vir verteenwoordigende spanne van die Blou Bulle. Die unie se sewesrugby span het die afgelope naweek in die eindstryd van ‘n toernooi in Zambië gespeel, terwyl hulle eersdaags ook weer teen internasionale teenstand in die Lesotho 7’s toernooi sal meeding.

Al hierdie projekte skep die geleentheid vir byna 230 amateurrugby spelers onder die jurisdiksie van die Blou Bulle om op verteenwoordigende – en selfs internasionale –  vlak blootstelling te kry.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button