Koue weer kan gestremde hengelaars nie stuit
Gestremde hengelaars in hul rolstoele was het die afgelope Saterdag weer die katrolle laat sing by Ramcat Fish se hengeldag langs die dam by die Irene Country Lodge in Centurion.

Die onverwagte koue en nat weer wat Pretorianers se lente-gees die afgelope naweek effens gedemp het, kon die keer dat getroue deelnemers van die jaarlikse Ramcat Fish hengeldag weer in groot getalle by die Irene Country Lodge se dam bymekaarkom nie.
Hierdie jaarlikse hengeldag vir gestremde hengelaars het weer deelnemers van oral oor Gauteng, asook ander provinsies gelok.
Hoewel die dag hoofsaaklik vir hengelaars in rolstoele aangebied word, laat die organiseerders ook ander gestremdes toe om deel te neem.
“Dit gaan oor die geleentheid vir ons gestremde vriende om ‘n dag lank langs die viswater te kan kuier met hul families en mede gestremde hengelaarsvriende. Ons probeer om hulle op dié dag te bederf met goeie kos en die beste geriewe,” het Gerard Smal van Ramcat Fish aan Rekord gesê.
Volgens Smal is daar jaarliks nuwe gesigte by die dag, maar sommige van die deelnemers ondersteun die inisiatief al sedert Ramcat sewe jaar gelede daarmee begin het.
Smal het die hengeldag aanvanklik begin weens sy betrokkenheid by weermagveterane wat tydens hul dienstyd in die Suid-Afrikaanse Weermag beseer is en gestremd geraak het.
Daarna het hy dit ook uitgebrei met ‘n uitreik aksie na manne wat weens motorfiets ongelukke in rolstele beland het, terwyl oud rugbyspelers wat weens beserings gestremd is later ook deel gevorm van Ramcat se netwerk.
Deesdae word alle gestremde hengelaars genooi om deel te neem aan hierdie besondere geleentheid.
Hengelaars word bygestaan deur helpers, wat hulle met die aansit van aas en ander take rondom die hengelproses mag help. Die gevolg is dat Ramcat Fish se hengeldag gewoonlik ‘n feestelike saamkuier geleentheid vir almal teenwoordig word.
Of dit die koeler weer was wat ‘n invloed gehad het is nie seker nie, maar die afgelope naweek het die vis sommer vroeg begin byt. Met Rekord se besoek teen 09:00 Saterdag oggend was die beoordelaars se tenk langs die dam reeds vol babers, terwyl ‘n hele paar hengelaars ook stewige karpe uitgetrek het. Die karpe is gemeet en geweeg, waarna dit weer in die dam losgelaat is.
Riaan Bornman, koördineerder van Freshwater Fishing for the Disabled en die man wat gestremde hengelaars verteenwoordig by die Suid Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF), was een van die deelnemers.
Bornman het aan Rekord gesê dat die nasionale kampioenskap vir gestremde hengelaars oor ‘n maand (die naweek van 20-21 Oktober) by die Vaaldam plaasvind. Belangstellendes is welkom om met hom op Facebook kontak te maak.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




