Local sportSport

Loftus200 span wys die krag van Blou Bulle se amateurrugby

Die krag van klubrugby in Pretoria is Vrydagaand onderstreep toe die Loftus200 span ‘n span van die Goue Leeus maklik geklop het.

Victor Matfield se Loftus200 span, wat in hul tweede wedstryd van die seisoen bestaan het uit spelers van Tukkies en Centurion se Carltonbeker spanne, het verlede Vrydag teen ‘n amateurspan van die Goue Leeus Rugby-unie gewys hoe sterk klubrugby in Pretoria is.

Die Loftus200 span het hul eweknieë van anderkant die Jukskeirivier redelik maklik met 47-19 verslaan. In die proses het Matfield se span sewe puik drieë gedruk. Daarenteen kon die besoekers slegs drie keer die doellyn haal.

Hierdie wedstryd het op Loftus Versfeld plaasgevind en dit het gedien as voorwedstryd vir die Blou Bulle se Curriebeker kragmeting teen die Pumas.

Hoewel die seisoen vir die meeste van die spelers in die Loftus 200 span weke gelede reeds amptelik geëindig het, is die wedstryd steeds teen ‘n baie vinnige tempo gespeel.

Die tuisspan se sukses het voorlangs begin, waar hulle die Johannesburgers in alle fasette oorheers het. Loftus200 se vaste vyf, met die slot en kaptein Pieter Griesel aan die voorpunt, het die pap dik aangemaak en die manne van die Leeus kon dié aanslag nie stuit nie.

Griesel-hulle se oorheersing het aan hul losvoorspelers die kans gegee om die besoekers se agterlyn onder groot druk te plaas, wat weer aan die Loftus200 span gereelde momentum kon verskaf.

Agter die oorheersende pak voorspelers het losskakel Steven Moir oudergewoonte sake soos ‘n generaal beheer en sy geleerde skopvoet was ook goud werd vir sy span. Hy het nie net ses van die drieë verdoel nie, maar sy balverspreiding was ook puik en die spelers aan sy buitekant het oorgenoeg hardloopkans gekry.

Nog ‘n speler wat beïndruk het was Centurion se groot buitesenter, Christiaan Burger. Dit sal niemand verbaas as dié opwindende speler in die toekoms nog iewers kans kry om op ‘n hoër vlak te speel nie.

Die Loftus200 span wat in Oktober in Kenia gaan toer sal waarskynlik binnekort bekendgemaak word. Dié span sal uit spelers van Tukkies, Centurion en Quins-Bobbies saamgestel word.

Naka Bulle sal op hul eie na Zimbabwe toer ter voorbereiding vir volgende seisoen se Gouebeker toernooi.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button