Local sportSport

Blou Bulle bied provinsiale Platteland toernooi aan

Die bekende Platteland amateurrugby toernooi, wat enkele seisoene gelede deur SA Rugby afgeskaf is, herleef eerskomende naweek in Pretoria.

Klubrugby spelers uit die Blou Bulle se B- en C-ligas kry eerskomende naweek die kans om op verteenwoordigende vlak te kompeteer met die herlewing van die sogenaamde Platteland Amateurtoernooi in Pretoria.

Dié toernooi, wat tradisioneel deur SA Rugby aangebied is, is enkele jare gelede afgeskaf weens finansiële druk.

Intussen het die Blou Bulle Rugby-unie se nuwe bestuur besluit om die toernooi te laat herleef, al is dit ook op kleiner skaal as voorheen.

Vyf spanne sal by eerskomnde naweek se toernooi betrokke wees. Die Blou Bulle, die Luiperds en die Limpopo Blou Bulle se amateurspanne sal eerskomende Vrydag, Saterdag en Maandag (openbare vakansiedag) om die beurt teen mekaar meëding in die toernooi, wat met die hulp van JVL Produkte aangebied sal word.

‘n Verdere twee spanne, wat onderskeidelik as die Blou Bulle Legendes en die Barbarians bekend sal staan, sal ook by die toernooi in aksie wees.

Die Blou Bulle Legendes sal saamgestel word uit spelers wat oor baie jare naam gemaak het in die Blou Bulle se laer klubligas. Die Barbarians sal uit dieselfde klubs gekies word as die Blou Bulle se Platteland span.

Die wedstryde word by die Tuine Sportklub, tuiste van die Grizzlies rugbyspanne, aangebied. Grizzlies is een van die klubs wat spelers vir die Blou Bulle se Plattelandspan opgelewer het. Ander klubs waaruit die plaaslike span se spelers kom is Dragons-Noodelikes, Eersterust en Transnet Parke.

Die toernooi skop Vrydag om 18:00 af met ‘n wedstryd tussen die Blou Bulle en die Luiperds.

Saterdag se eerste wedstryd begin om 15:00, wanneer die Blou Bulle se Legendes teen die Barbarians uitdraf. In Saterdag se hoofwedstryd speel die Limpopo Blou Bulle teen die Luiperds.

Maandag sal die aksie om 13:00 begin met ‘n herhaling van die wedstryd tussen die Legendes en die Barbarians, waarna die Blou Bulle se Plattelandspan hul eweknieë van die Limpopo Blou Bulle sal pak.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button