Local sportSport

Interprovinsiale Platteland Amateurrugby toernooi lewer kookwater rugby op

Die afgelope naweek se JVL Platteland Amateurrugby toernooi, wat in die weste van Pretoria aangebied is, het bewys dat klubrugby ook in die laer ligas en op die platteland steeds kwaliteit spelers oplewer.

Die JVL Platteland Amateurrugby toernooi, wat tydens die afgelope langnaweek met groot sukses deur die Blou Bulle Rugby-uinie (BBRU) aangebied is, het weer onderstreep dat klubrugby tans ‘n ongekende herlewing beleef.

Rugbykenners was verbaas oor die kwaliteit van die spel wat deur verteenwoordigende spanne van die Blou Bulle, Limpopo Blou Bulle en Luiperds opgelewer is, terwyl die toeskouers in groot getalle opgedaag het om die spanne te ondersteun.

Dié toernooi is by die Tuine Sportklub in die Weste van Pretoria aangebied onder die leiding van Bloubul vise-president, Johan Beukes.  Die BBRU het besluit om dié toernooi op eie stoom lewend te hou, nadat SA Rugby dit enkele jare gelede weens finansiële redes afgeskaf het.

Nie net die amptelike wedstryde tussen die verteenwoordigende spanne van die drie deelnemende unies het groot belangsteling gewek by toeskouers nie. Die spanne wat in twee vertoonwedstryde betrokke was, het toeskouers ook gereeld op hul voete gehad met die opwindende hardlooprugby wat hulle opgedis het.

In dié wedstryde het die Bloubul Barbarians (‘n span wat – soos die Bloubul Plattelandspan – saamgestel is uit spelers van die Blou Bulle se B- en C-ligas) en ‘n Legendes span (saamgestel uit veterane uit die Blou Bulle se klubligas) twee keer tydens die toernooi teen mekaar gespeel.

Hoewel die Barbarians albei wedstryde gewen het, het die “ou manne” dit glad nie vir hulle maklik gemaak nie. Die oudste speler in die span is al byna 50 jaar oud en ‘n hele paar van sy spanmaats is ook aan die verkeerde kant van 40. Tog het hulle veral met hul puik vaardighede beïndruk en enduit bygehou teen die Barbarians.

Die Blou Bulle se Platteland Amateurspan het die toernooi onoorwonne afgesluit deur eers die Luiperds met 57-31 te klop en daarna die span van Limpopo met 51-36 kaf te draf. Sodoende het Gerrit du Plessis en sy manne seker gemaak dat hulle as kampioen van die toernooi gekroon word.

Saterdag het die Luiperds die manne van Limpopo in ‘n taai stryd met 23-21 geklop.

Phillip Mulder, skitterende heelagter van die Blou Bulle, is beide as Agterspeler van die Toernooi en algehele Speler van die Toernooi aangewys. Sy spanmaat JJ Scheepers (slot) is as Voorspeler van die Toernooi aangewys.

Willem Strauss, president van die BBRU, het tydens die amptelike seremonie na afloop van die laaste wedstryd bevestig dat die Luiperds ingestem het om die toernooi volgende jaar aan te bied. Strauss het gesê daar sal gepoog word om nog unies by die toernooi betrokke te kry.

https://www.facebook.com/GrizzliesTV/videos/967227656802740/

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button