Naka Bulle verloor staatmaker
‘n Geliefde administrateur van die ABE Midas Naka Bulle rugbyklub is die afgelope week skielike aan ‘n hartaanval oorlede.

Die ABE Midas Naka Bulle Rugbyklub is die afgelope week in rou gedompel ná die skielike afsterwe van een van hul ware strydrosse.
Thys Davis (62) is die afgelope naweek in Margate aan die Suidkus van Kwazulu-Natal oorlede. Daar word vermoed dat hy ‘n hartaanval gehad het.
Davis was in Maragte saam met ABE Midas Naka Bulle se Goue Oues rugbyspan, waar hulle aan die jaarlikse nasionale Goue Oues toernooi deelgeneem het.
Sy verbintenis met die klub strek reeds vanaf 1976 toe hy op 21-jarige ouderdom by die destydse Adelaars Rugbyklub aangesluit het. Hy het die klub jare lank as speler verteenwoordig, waarna hy ook by administrasie betrokke geraak het.
Davis het veral as spanbestuurder uitgeblink en die afgelope twee seisoene was hy onderskeidelik bestuurder van die klub se tweedespan (Bloubul kampioen in 2017) en derdespan (Bloubul kampioen in 2018).
Dié geliefde rugbyman was tydens sy afsterwe steeds aktief in sy beroep as IT spesialis. Hy word oorleef deur sy vrou, Wilna, vier kinders en agt kleinkinders. Hy word op 3 Oktober, op sy verjaardag, om 11:00 vanuit die NG Kerk Waverley-Oos begrawe.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
