All Blacks klop Springbokke op Loftus met omstrede wendrie in laaste sekondes
Nadat die Springbokke Saterdagmiddag vir 79 minute voorgeloop het in hul wedstryd teen die All Blacks op Loftus Versfeld, het die wêreldkampioen vir die soveelste keer die afgelope paar seisoene daarin geslaag om die wenpunte in die laaste sekondes van die wedstryd aan te teken.
Die All Blacks het dit wéér gedoen, al was dit met ‘n bietjie hulp van die Aussie skeidsregter, Angus Gardner.
Kieran Read en sy manne het die Springbokke Saterdagmiddag op Loftus Versfeld met 32-30 geklop, nadat Ardie Savea die wendrie in die laaste minuut van die wedstryd gedruk het.
Toeskouers wat direk in lyn met die laaste lynstaan gesit het, sal egter waarskynlik vir jare nog getuig dat die All Blacks se wendrie gedruk is ná ‘n blatante skewe ingooi in dié lynstaan, vanwaar die Nieu-Seelanders oorgedryf het.
Net so was die besoekers uit Nieu-Seeland se eerste drie deur Aron Smith ook omstrede, aangesien daar algemene konsensus by almal behalwe die wedstrydbeamptes was dat ‘n vorentoe aangee die beweging voor dié drie vooraf gegaan het.
Hoewel daar vooraf verwag is dat die All Blacks met ‘n reuse aanslag gaan kom om hul nederlaag van drie weke gelede teen die Springbokke te wreek, was dit eerder die tuisspan se taktiek wat in die eerste helfte vrugte afgewerp het.
Dis bekend dat die All Blacks nie daarvan hou om om te draai en terug te speel nie. Juis daarom was Rassie Erasmus se taktiek in die kol om hulle te laat teister met skoppe wat hulle gereeld moes laat omdraai.
Anders as verlede week teen Australië was die Bokke se skoppers hierdie keer baie meer akkuraat. Veral Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux het daarin geslaag om die Nieu-Seelanders in hul eie gebied vas te pen met netjiese skoppies.
Ongelukkig kon die manne in Groen en Goud in die eerste helfte nie deeglik genoeg baat vind by die feit dat hulle die meeste van die speelwerk gedoen het én meer gebiedsvoordeel geniet het nie. Pollard het twee geleenthede pale toe gebruik en geslaag, maar die kere dat hy die kantlyn opgesoek het, kon nie dividende oplewer nie.
Die Springbokke is ‘n paar keer baie naby die doellyn gestuit, terwyl die All Blacks in die eerste skof net een keer werklik naby kon kom om te druk. Gelukkig het die Suid-Afrikaners se ramkat haker, Malcolm Marx, weer die situasie gered deur sy hand op die bal te kry en die strafskop te melk, nadat die All Blacks die bal op die grond vasgehou het.
Teen rustyd was sake egter met 6-elk gelyk en ‘n mens het die gevoel gekry dat die Springbokke dalk later die prys sal betaal vir die feit dat hulle nie hul kanse beter benut het in die eerste helfte nie.
Ná die taai armdruk-stryd van die eerste helfte het die wedstryd skielik behoorlik vlam gevat in die tweede skof.
Jesse Kriel is vier minute na die afskop oor die doellyn in die eerste van sewe drieë wat deur die twee spanne in dié laaste 40 minute gedruk is.
Die Springbokke sal by nabetragting egter ook hulself kan blameer vir die nederlaag. Siya Kolisi en sy manne het halfpad deur die tweede helfte ‘n voorsprong van 17 punte gehad, maar ‘n paar glipse op die verdediging – wat in die eerste helfte solied was – het aan die besoekers die geleentheid gebied om die gaping tot 5 punte te verklein, wat hulle in staat gestel het om die wedstryd te steel met daardie laaste omstrede drie.
PUNTEMAKERS:
SPRINGBOKKE: 30 Drieë: Jesse Kriel, Damien de Allende, Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Strafdoele: Handré Pollard (3)
ALL BLACKS: 32 Drieë: Aaron Smith, Rieko Loane, Scott Barrett, Ardie Savea. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafdoele: Beauden Barrett (2)
Skeidsregter: Angus Gardener
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.













