Swaargewig bokskampioen in aksie in Pretoria ná sukses in die hof
Die jong Suid-Afrikaanse swaargewig bokskampioen, Ruan Visser, sal op 21 Oktober in Pretoria in aksie wees nadat hy sy onskuld teen beskuldigings van die gebruik van steroïde in die hof bewys het.
Die Suid-Afrikaanse swaargewig bokskampioen, Ruan Visser, sal op 21 Oktober in Pretoria sy terugkeer maak na die kryt, nadat hy sy ongure stryd met die Suid-Afrikaanse Instituut vir dwelmvrye Sport (SAIDS) in die hof gewen het.
Die Visser-kamp se regspan het in ‘n agt-maande lange hofstryd waarskynlik ‘n katnes oopgekrap wat verrykende gevolge kan hê, maar die Giant King – soos Visser in die kryt bekendstaan – wil dié onsmaaklike episode so gou as moontlik agter hom plaas.
Visser se pa Nefdt – wat ook sy bestuurder is – het verlede week aan Rekord gesê sy seun wil net weer boks om sy droom van ‘n wêreldtitel te kan jaag en hulle beskou die geveg op 21 Oktober in die Sun Arena in Pretoria as die eerste stap om dié doelwit te bereik.
Dié reus van 2,07m en 116kg het op 23 Februarie vanjaar die nuwe SA Swaargewig kampioen geword toe hy Osborne Machimana by die Emerald Casino in Vanderbijlpark in ‘n titelgeveg uitgeslaan het.
Kort daarna het die Visser-kamp se groot stryd egter begin om die nuwe kampioen se eer te red, nadat SAIDS aangekondig het dat hy positief getoets het vir Stanazolol, ‘n verbode steroïde.
“Ons het onmiddelik besef daar is groot fout, want my seun het beslis nie enige steroïde of opkikkers gebruik nie. Ons het met ‘n proses begin om alles wat hy inneem – selfs die vleis wat hy eet – te laat toets vir moontlike spore van dié steroïde. Al die toetse was negatief,” het Nefdt Visser aan Rekord gesê.
Intussen het die Vissers aansoek gedoen dat Ruan se B-monser ook getoets word. Dit is in hierdie proses dat ongerymdhede ontdek is. Die B-monster het byvoorbeeld nie die vereiste hoeveelheid urine bevat nie, terwyl dit ‘n aansienlik hoër hoeveelheid Stanazolol as die A-monster bevat het. Die feit dat die twee monsters drasties verskil het, dui op ‘n ernstige tegniese fout deur SAIDS of selfs die moontlikheid dat daar met die monsters gepeuter kon wees.
Hierna is die Visser-kamp hof toe om die uitslag van SAIDS se toetse te beveg. Na ‘n lang proses het SAIDS uiteindelik erken dat hulle nie kon waarborg dat die monsters wel Visser se uriene was nie. Hulle het erken dat daar foute met Visser se toets was, waarna hulle handoek ingegooi het met die saak.
Die Visser-kamp het aangedring op ‘n uitspraak van die hof. Dié uitspraak was amptelik “onskuldig” en Ruan Visser se status as SA Swaargewig kampioen is herstel.
“Ruan kan nou aangaan met sy loopbaan, maar ons gaan die saak beslis nie daar los nie. Ons regskostes was ongeveer R1-miljoen en ons gaan dít van SAIDS eis, sowel as skadevergoeding. My seun het groot borge en potensiële borge verloor en sy openbare beeld is ernstig geskaad,” het Nefdt Visser aan Rekord gesê.
Volgens Nefdt Visser is sy seun aanvanklik soos ‘n krimineel behandel en hulle het geen samewerking van SAIDS gekry nie. Later het SAIDS egter wel hul samewerking gegee. Die vermoede bestaan dus dat, indien daar korrupsie was, dit enkelinge in die proses was wat hulle daaraan skuldig gemaak het.
Dis ook nie onmoontlik dat ‘n soort boksmafia in Suid-Afrika bestaan wat Visser se loopbaan om verskeie redes wou verongeluk met hierdie omstrede gebeure nie.
“Ek dink hierdie saak kan verrykende gevolge hê. Ons regspan, advokaat Francois Strydom en die prokureur, Faan Nolte, het waarskynlik baanbrekerswerk gedoen. Ons is verheug dat geregtigheid geskied het, maar ons glo ook dat hierdie saak waarskynlik ander atlete en sportmanne kan help om hul regte te ken in die hele proses van dwelmtoetsing,” was Visser se mening.
Hy het verduidelik dat die meeste sportmanne naïef en oningelig is oor die proses van dwelmtoetse.
“Sportmanne moet beter ingelig word oor hoe die proses werk en wat die vereistes is. Ons almal wil graag geregtigheid hê, maar hierdie saak het bewys dat daar leemtes in die stelsel is,” het Visser benadruk.
Visser sal sy terugkeer na die kryt op 21 Oktober vier in die ‘Vegas in Africa’ bokstoernooi met ‘n nie-titel geveg teen Luke Sutherland, ‘n opkomende swaargewig bokser van Johannesburg. Dié toernooi sal uit nege gevegte bestaan en verskeie ander sterre, soos die jong swaargewig van die Oekraïne Vlad Sirenko, sal ook in aksie wees.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.



