WP klop Blou Bulle in slegs een helfte van Curriebeker rugby op nat Loftus
Sover bekend is daar Saterdagaand geskiedenis gemaak op Lofus Versfeld toe die Cuuriebeker wedstryd tussen die Blou Bulle en die WP teen halftyd afgelas is weens swaar reën en gevaarlike weerlig.
Die WP het Saterdagaand in gure weer net 40 minute nodig gehad om ‘n bonuspunt oorwinning van 34-7 oor die Blou Bulle te behaal.
Hierdie uitslag beteken dat die Blou Bulle vierde op die punteleer eindig en volgende Saterdag weer teen die WP – hierdie keer in Kaaptsad – in ‘n Curriebeker halfeindstryd sal speel.
Nadat ondersteuners van beide die Blou Bulle en die WP die hele week uitgesien het na opwindende rugby in hierdie deurslaggewende Curriebeker wedstryd, was dit uiteindelik die weer wat die laaste sê gehad het.
Sowat ‘n uur voor die amptelike afskoptyd het dit katte en honde begin reën op Loftus Versfeld en die afskoptyd van die wedstryd moes selfs uitgestel word weens gevaarlike weerlig rondom die stadion.
Toe die wedstryd uiteindelik kon begin, het dit sommer gou duidelik geword dat die tuisspan glad nie gemaklik was in die nat toestande nie. Hoewel dit nie meer so deurdringend gereën het nie, het die hemelsluise nooit heeltemal toegemaak nie en spel is in ligte reën voortgesit.
Die Kapenaars het die Blou Bulle van die afskop af onder druk gesit en die tuisspan kon eenvoudig nie by die omstandighede aanpas nie. Hulle het gesukkel in die skrums en met die WP wat momentum opgebou het, het die Bulle se hantering al hoe swakker geword.
Teen rustyd het die WP reeds ‘n bonuspunt vir vier drieë verdien, terwyl die tuisspan slegs een keer die doellyn kon haal.
Toe die rustydfluitjie blaas, het ‘n volgende donderstorm oor Loftus uitgebreek. Die weerlig was gevaarlik en die weerburo het die stadionbestuur laat weet dat nog donderstorms op pad was in die rigting van Loftus Versfeld.
Hierdie toestande het veroorsaak dat geskiedenis waarskynlik op Loftus gemaak is toe die wedstryd amptelik afgelas is voor die spanne terug kon keer na die veld. Sover bekend is dit die eerste keer ooit dat ‘n amptelike provinsiale wedstryd weens slegte weer afgelas is op dié stadion.
PUNTEMAKERS:
BLOU BULLE: 07 Drieë: Ruan Steenkamp. Doelskoppe: Tinus de Beer (1)
WP: 34 Drieë: Strafdrie, Kobus van Dyk, Sergeal Petersen, Jaco Coetzee. Doelskoppe: SP Marais (4). Strafdoele: SP Marais (2)
Skeidsregter: Eagon Seconds
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/298738490960598/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





