Local sportSport

Klubrugby betree nuwe era in 2019 met Volcano Superliga

Volcano Superliga, wat die afgelope naweek in Pretoria bekendgestel is, is met die oog op die toekoms van rugby in Suid-Afrika ontwerp om ‘n leemte te vul op ‘n vlak net onder die professionele ligas.

Na die sukses van die interprovinsiale Super Klubliga, wat vanjaar vir die eerste keer aangebied is, het verteenwoordigers van klubs in die noordelike provinsies besluit om dié konsep te verfyn en uit te brei in 2019.

Gevolglik is die nuwe Volcano Superliga die afgelope naweek luisterryk bekendgestel by Loftus Versfeld. Altesaam 19 top klubs uit die jurisdiksie gebiede van vier verskillende provinsiale rugby-unies sal deelneem aan die nuwe kompetisie, wat uit drie afdelings sal bestaan.

Met die hulp van die sportklere vervaardiger Volcano, wat as titelborg van die nuwe kompetisie aan boord gekom het, sal klubs van die Blou Bulle, die Valke, die Luiperds en die Limpopo Blou Bulle volgende jaar deelneem aan twee senior ligas en een junior (o.20) liga in die nuwe interprovinsiale kompetisie.

Dié drie kompetisies sal gesamentlik tussen Maart en September afgehandel word, terwyl al drie die ligas se kampioene uiteindelik via halfeindstryde en ‘n eindstryd bepaal sal word.

Volgens die Blou Bulle se president, Willem Strauss, onder wie se leiding die nuwe koers in klubrugby vanjaar reeds gestalte gekry het, het hierdie konsep waarskynlik gekom om te bly. Strauss is oortuig dat dit die manier is om ‘n krag-teen-krag basis vir klubs op verskillende vlakke te skep.

Hoewel die plaaslike Carltonbeker liga steeds gelyktydig met hierdie kompetisie afgehandel sal word, is dit ‘n realiteit dat slegs vier klubs in Pretoria oorgebly het wat werklik op top vlak kan kompeteer. Hierdie vier klubs – Tukkies, Centurion, Quins-Bobbies en ABE Midas Naka Bulle – het inderwaarheid die afgelope paar seisoene in semi-professionele klubs ontwikkel.

Ongelukkig kan die meeste ander klubs in Pretoria om hierdie rede nie tans op gelyke voet met hulle kompeteer nie. Daarom het die skepping van ‘n sterk liga oor die grense van provinsiale unies die antwoord geword om klubrugby op ‘n semi-professionele vlak uit te bou. Die stewige sessyfer bedrag waarmee Volcano aan boord gekom het, maak dit vir administrateurs moontlik om klubrugby in hierdie nuwe kompetisie op dié hoë vlak te bedryf.

Dié nuwe top liga skep ook vir al die deelnemende unies nuwe moontlikhede ten opsigte van ‘n voedingsbron van spelers, veral op die vlak van die SuperSport reeks en die Curriebeker toernooi.

In die top kompetisie sal agt top klubs se senior spanne in ‘n volledige dubbelrondte ligawedstryde aan die Volcano Superbeker liga deelneem. In hierdie kompetisie sal die vier genoemde Carltonbeker klubs van Pretoria kompeteer saam met Springs en East Rand United van die Valke, Rustenburg Impala van die Luiperds en die Northam Rhinos van Limpopo.

Die standaard van hierdie liga behoort besonder hoog te wees, aangesien vyf van die deelnemende klubs ook volgende jaar aan die nasionale Gouebeker Klubkompetisie sal deelneem.

In die Volcano Trofee liga kompeteer vyf klubs van die Blou Bulle, vier klubs van die Valke en twee klubs van die Luiperds teen mekaar in ‘n enkelrondte van tien wedstryde elk. Elke klub sal vyf keer tuis en vyf keer weg speel.

Die plaaslike Bloubul klubs in hierdie liga is die Dragons, Korrektiewe Dienste, Pretoria Rugbyklub, Tuine en TUT. Uit die geledere van die Valke is daar Boksburg, Brakpan, NWU-Vaal en Vereeniging, terwyl die Luiperds verteenwoordig sal word deur Klerksdorp en Potch Dorp.

Hoewel die deelnemende klubs aan die junior o.20 liga nog nie gefinaliseer is nie, word daar op hierdie stadium gehoop om tien tot twaalf spanne betrokke te kry.

Strauss het beklemtoon dat hulle ernstig is om die standaard van hierdie junior liga op ‘n baie hoë vlak te vestig. Dit word beskou as ‘n deurslaggewende projek om so veel moontlik top skoolverlaters, wat nie by provinsiale unies gekontrakteer is nie, vir hierdie liga te werf.

Volgens Strauss sal die sukses van die junior liga deurslaggewend wees vir die sukses van senior rugby in sowel klub- as provinsiale strukture.

Dis reeds algemene kennis dat provinsiale strukture in die toekoms baie minder spelers gaan kontrakteer en Strauss is oortuig dat die nuwe klubligas – op junior sowel as senior vlak – in die toekoms ‘n groot rol gaan speel om spelers die geleentheid te gee om hulself aan die beroepspanne bekend te stel.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button