Oryx sewesrugby- en atletiekklub vestig by Toutrekpark
Die Oryx Atletiekklub, wat by Toutrekpark in Rietfontein gesetel is, bied tans spesialis afrigting aan vir verspringatlete wat ernstig is om te vorder in dié item.

Toutrekpark op die hoek van Frederikastraat en 14e Laan in Rietfontein is lankal nie meer net die tuiste van die Gauteng-Noord Toutrekvereniging nie.
Dié terrein huisves deesdae ook radiobeheerde motor-entoesiaste, ‘n sogenaamde ‘bootcamp’, ‘n raakrugbyliga en ‘n hondevereniging. Toutrekpark is egter ook die nuwe tuiste van die Oryx Sewesrugby en -atletiekklub.
Die Oryx 7’s klub het reeds vroeër vanjaar op hierdie terrein begin oefen en in Julie het twee van hul o.19-sewesrugbyspanne aan ‘n internasionale toernooi in Texas in die VSA gaan deelneem. Een van hierdie spanne het die Plaatkompetisie van dié toernooi – waaraan 32 spanne deelgeneem het – gewen.
Die Oryx klub se atletiek-divise is ‘n nuwe toevoeging sedert Augustus vanjaar, wat tans in spesialis verspringafrigting spesialiseer. Met die hulp van verskeie borge is ‘n wêreldklas verspringput enkele weke gelede op die terrein van die Toutrekklub aangebring en Gawie Espag en sy mede-afrigters is reeds besig om jong verspringatlete touwys te maak.
Espag, afrigter betrokke by beide die rugby en die verspring, is baie opgewonde hieroor. Hy het lankal met die idee vorendag gekom om ‘n verspringput buite skoolverband te bou en dié droom is nou bewaarheid.
“Ek rig al vir baie jare af, maar was altyd afhanklik van skole se fasiliteite en hulle oefentye. Van my atlete van ander skole was ook huiwerig om by ‘n vreemde skool te oefen. Ek moes ‘n ander plan maak en nadat ons sewesrugbyspanne hier by Toutrekpark begin oefen het, het ek die moontlikhede raakgesien,” het Espag aan Rekord gesê.
Daar word aan atlete se fiksheid geskaaf en dan ontvang hulle spesialis verspringafrigting. In dié proses word van tegnologie en ander doelgemaakte toerusting gebruik gemaak om atlete te analiseer en hul tegniek te verbeter.
Die visie van die verspringklub is om jong atlete van Pretoria se Moot- en Noord areas ‘n geleentheid te bied om spesialis afrigting te ontvang, sodat hulle met hul eweknieë in ander areas van Pretoria – wat lank reeds professionele afrigting ontvang – kan kompeteer.
“Die leemte in behoorlike verspringafrigting in ons gebied bestaan al vir baie jare en ons sien die verskil wat ons in afstande en style van ons atlete maak. Ons het in die afgelope paar jaar tot 70 cm in een seisoen by van ons hoërskoolatlete se afstande gevoeg,” het Espag vertel.
Volgens Espag lei hierdie diens daartoe dat atlete nie net met selfvertroue teen enige ander teenstand kan kompeteer nie, maar daadwerklike resultate soos podium-plekke by vanjaar se A- en B-bond byeenkomste was ook die gevolg.
Die klub het ook vanjaar se o.15 Suid-Afrikaanse meisieskampioen opgelewer en een van hul atlete het ‘n sportbeurs by ‘n universiteit in Amerika losgeslaan.
Belangstellende atlete kan Maandae tot Donderdae vanaf 17:00 by Toutrekpark aanmeld. Inligting is ook beskikbaar op die Oryx Athletics Club se Facebookblad of Gawie Espag kan geskakel word by 082-780-5135.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

