Local sportSport

Oud Affie maak deurbraak op rugbyveld in Amerika

‘n Oud Affie- en Bloubul Cravenweek skrumskakel is besig om in Amerika se professionele liga naam te maak op die rugbyveld.

Rugby is ‘n sport wat tans baie vining in gewildheid groei in Amerika en met die vestiging van ‘n professionele liga lyk dit of dié wêreldmoondheid deesdae ook ‘n gewilde bestemming word vir plaaslike spelers wat groener weivelde soek.

Terwyl verskeie Suid-Afrikaners al toetsrugby vir die Amerikaanse Eagles gespeel het, lok die nuwe  Major League Rugby (MLR) toernooi in Amerika ook heelwat jong Suid-Afrikaners.

Die 22-jarige Carlo de Nysschen, ‘n oud Affie wat ook al vir die Cheetahs se o.19 span op skrumskakel uitgedraf het, is deesdae ook besig om naam te maak in Amerika.

De Nysschen het ná twee jaar in Bloemfontein, waar hy ook vir die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas uitgedraf het, besluit om sy vlerke te sprei en hy het verlede jaar na Amerika uitgewyk, waar hy homself in Denver in die staat Colorado gaan vestig het.

Met sy aankoms in Denver het De Nysschen aangesluit by die Glendale Merlins rugbyklub. Hy is dadelik by die klub se onder-23 span betrek in die D1 klubliga.

De Nysschen se puik spel het onder die aandag van die klub se senior bestuur gekom en hy is vroeër vanjaar gekies as deel van hul professionele span, die Glendale Raptors, se oefengroep. Dié span kompeteer in die Major League Rugby (MLR) toernooi.

Die MLR is Amerika en Kanada se professionele rugbykompetisie en die Glendale Raptors was vroeër vanjaar in die eerste eindstryd van die toernooi teen die Seattle Seawolves in aksie.

Bekende Suid-Afrikaanse spelers soos die Springbok en Bulls agtsteman Pedrie Wannenburg en Blitsbok Joe Petersen, was sterre in die eerste MLR toernooi.

Intussen het De Nysschen ‘n uitgebreide proses deurloop om om sy dokumentasie ten opsigte van verblyf en werkspermitte in orde te kry. Daarna kon hy uiteindelik verlede maand sy eerste wedstryd vir die Glendale Raptors speel.

Hy het op 16 September as plaasvervanger skrumskakel teen die Ontario Arrows op die veld verskyn toe hy nog ‘n Suid-Afrikaner, Shaun Davies van Durban, vervang het. Die span is tans besig met ‘n reeks vertoonwedstryde, voordat die nuwe MLR seisoen amptelik in Januarie 2019 begin.

Dit wil voorkom of Suid-Afrikaanse skrumskakels gewild is by die Glendale Raptors, aangesien nog ‘n gewese Pretorianer, Niku Kruger, ook voorheen vir die span uitgedraf het. Kruger is ‘n oud leerling van Pretoria Boys High en hy het Amerika in 2015 by die wêreldbeker toernooi verteenwoordig as skrumskakel van die Amerikaanse Eagles.

Kruger het intussen uit rugby getree na ‘n ernstige kniebesering.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button